Local newsNews

Kinders is kosbaar — beskerm hulle!

Die nasionale kinderbeskermingsweek strek vanaf Sondag 29 Mei tot Sondag 5 Junie en plaas die fokus op die beskerming van al die kosbare kinders in die gemeenskap.

Die Pos het met Lize Fouché, maatskaplikewerker van Rata-maatskaplikedienste in Modimolle, gesels oor die belangrikheid van hierdie week. Fouché het vertel dat sy en haar oulike krokodil genaamd Parmant verskeie kleuterskole en laerskole besoek het waar Parmant die kinders geleer het wat gesonde grense is met sy bekende slagspreuk: “Dit is my lyfie en ek sê nee, nee, nee!”

Die boek met dieselfde naam is deur Leon de Villiers geskryf en die eerste keer in 2003 uitgegee.

Hulle het by verskeie kleuterskole in Modimolle waaronder Brakanjan, Faith Kidz, Klein Treetjies, Klouter Kabouter en Kleinmagetryn gekuier. Sy en Parmant was ook by Modimolle Christian Academy en die Waterbergskool vir Christelike Volkseie Onderwys (CVO).

Fouché het vervolg “Ons wil graag die gemeenskap herinner aan die regte van kinders en daarmee saam die verantwoordelikhede van ouers. Wanneer ouers hul verantwoordelikhede teenoor hul kinders nakom sal kinders se regte nie geskend word nie,” het sy gesê.

Volgens Fouché bied hul leiding aan ouers om hul kinders in liefde groot te maak, met deernis foute aan te spreek en met positiewe woorde aan te moedig. “Ouers moet aandagtig luister en ruimte bied vir die uitdrukking van hul kinders se gevoelens,” het sy gesê.

Basiese verantwoordelikhede sluit in om kinders fisiek te versorg, veral wanneer hulle siek word. Ouers moet ook verseker dat kinders skool bywoon en hulp verleen met huiswerk.

Deel van ouers se pligte is om kinders te beskerm teen boelies, molestering of teistering, alkohol- of dwelmmisbruik en blootstelling aan ontoepaslike kyk- of leesstof. Selfone en rekenaars bied kinders onbeperkte toegang tot sosiale media en die internet wat die deur oopmaak vir allerlei probleme en gevare. “Dit is belangrik dat ouers betrokke moet wees by hul kinders en weet waaraan hulle blootgestel word op sosiale media en selfoonboodskappe.

Die Modimolle-kantoor moet talle uitdagings die hoof bied veral nadat die departement van sosiale dienste hul huidige begroting met R100 000 gesny het. Volgens Fouché bied die departemente van binnelandse sake en justisie, asook die polisie, nie voldoende ondersteuning aan maatskaplike dienste nie.

Volgens die jaarverslag (1 April 2021 tot 31 Maart 2022) is daar ’n skerp toename in maatskaplike gevalle in ons omgewing. Daar is ’n behoefte aan meer veilige huisvesting en pleegsorg vir kinders, het sy gesê.

Kontak gerus Rata-maatskaplikedienste in Modimolle tussen 08:00 en 13:00 van Maandae tot Vrydae by tel. 066 117 4723 vir meer inligting of bel vir Lize Fouché tydens kantoorure by tel. 083 732 3174.

Related Articles

Back to top button