Local newsNews

Avontuurlustige en liefdevolle ystervrou sal gemis word

Katie Pretorius (92), ’n hartsmens van die Waterberg, is op Woensdag 25 Mei by ’n tehuis in Pretoria aan nierversaking oorlede.

Die familie sê hulle het talle boodskappe uit alle oorde ontvang van mense wat haar geken het en hulle is baie dankbaar vir die meelewing.

“My ma was ’n raakvatvrou. Haar huis en haar hande was oop vir almal. Sy was die spreekwoordelike Spreuke 31-vrou. Sy kon kook, bak, inmaak, seep kook, vrugte droog, slag — noem dit en sy kon dit doen,” het haar dogter, Kotie Wagner van Bela-Bela, aan Die Pos gesê.

Pretorius word ook onthou as ’n vrou met ’n avontuurlustige persoonlikheid, ’n ruim hart en as iemand wat omgegee het vir haar medemens. Sy was die niggie van televisielegende Jan Spies.

Sy is in 1929 in die Verena-distrik in Bronkhorstspruit gebore en in 1950 met haar man, Soekie, getroud. Die egpaar het na Boekenhoutspoort in die Alma-omgewing verhuis waar hulle jare geboer en drie dogters gehad het.

Pretorius het vir ’n paar jaar by die De Jager en Bekker-winkel op Alma gewerk.

Die plaas is in 1974 verkoop en hulle het na die destydse Nylstroom (nou Modimolle) verhuis waar sy as verpleegster by die FH Odendaal-hospitaal gewerk het.

Die gesin het in 1981 na Bela-Bela verhuis waar sy haar beroep by die Warmbad-hospitaal voortgesit het. Sy het in 1988 afgetree.

Sy het sedert 1990 in Pretoria gewoon, maar die Bosveld het haar teruggeroep en in 1996 het sy by die Johannes Postma-woonstelle in Modimolle gewoon en later by haar dogter in Bela-Bela voordat sy kort voor haar dood weer Gauteng toe is.

Volgens haar familie het haar gesondheid die laaste 10 maande drasties versleg met herhaalde hospitaalopnames sedert Desember. Pretorius was ’n diabeet.

“Haar groot hande kon die fynste borduurwerk doen. Sy het 40 jaar lank aan die Vroue Landbou-unie behoort en geen kompetisie misgeloop nie. Sy het alles probeer en die meeste idees baasgeraak,” het Wagner gesê. “Die boodskap wat my ma se nagedagtenis die beste beskryf is: For my mother, who showed me through her example that if you want to try something new, you just do it.”

Pretorius se roudiens het op Woensdag 1 Junie by die Gereformeerde Kerk Oos-Moot in Pretoria plaasgevind.

Related Articles

Back to top button