Local newsNews

Ses sterf in botsing op N1 buite Mookgophong

Die gevreesde “pad van die dood” het op Dinsdag 24 Mei die lewens van ses mense geëis.

Een van die insittendes van die minibus wat op Dinsdag 24 Mei in die ongeluk buite Mookgophong betrokke was, is deur ’n noodhelikopter na ’n hospitaal in Polokwane vervoer. Die N1-snelweg was vir etlike ure gesluit en motorryers moes van die alternatiewe roetes gebruik maak. Foto: Verskaf

Die N1-snelweg tussen Mokopane en Mookgophong het dié naam gekry weens die talle noodlottige ongelukke wat op hierdie gedeelte van die roete plaasvind. Luidens ’n verklaring van die departement van vervoer en gemeenskapsveiligheid is ses mense dood toe ’n motor en ’n minibus ongeveer 17 km buite Mookgophong op die N1 gebots het.

Die bestuurder van die Volkswagen-sedan, wat in die rigting van Polokwane gery het, het vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en teen ’n aankomende minibus gebots. Die sedan het ná die botsing aan die brand geslaan. Die bestuurder, wat alleen in die motor was, het geringe brandwonde opgedoen, maar het gesterf weens die geweldige impak van die botsing.

Die brandende wrak van die Volkswagen-sedan wat op Dinsdag 24 Mei in die botsing op die N1-snelweg met ’n minibus betrokke was. Die bestuurder van die Volkswagen het ligte brandwonde opgedoen, maar het later beswyk aan ander beserings wat hy met die geweldige impak opgedoen het. Foto: Verskaf

Vier insittendes en die bestuurder van die minibus is ook op slag dood. Die brandweer en nooddienste van Mookgophong is ontbied en een van die ander beseerdes is per helikopter na ’n hospitaal in Polokwane vervoer.

Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR van die departement vervoer, het haar medelye uitgespreek teenoor die naasbestaandes van die oorledenes.

Die polisie ondersoek die moontlikheid dat spoed en nalatigheid die oorsaak van die ongeluk was. Nege passasiers van die minibus is ernstig beseer.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button