Local newsNews

Huis Tekna verander die woord ‘koshuis in ‘huis’

Vir die 46 kinders wat by Huis Tekna in Bela-Bela woon, is hierdie ’n veilige hawe wat nie net huisvesting bied nie, maar waar hulle met liefde en deernis versorg word.

“Huis Tekna het in 1997 ontstaan toe die behoefte vir soortgelyke instansies raakgesien is,” het Mark Rainer, voorsitter van Huis Tekna se trustees, in ’n onderhoud met Die Pos vertel. “Dit is veral gemik op pasgebore babas en vir kinders jonger as 12 jaar wat nie ’n veilige ouerhuis het nie.”

“Ons sien nie net om na kinders wat mishandel, afgeskeep of verwaarloos is nie, maar ook na kinders wat aan gevaarlike gesondheidsgevare blootgestel word. As deel van die Safe Haven Project for children is ons tans ook bekend as ’n instansie wat tydelike sorg aan kinders bied wat betrek was by onwettige aktiwiteite of kinders aan wie tydelik huisvesting gebied moet word terwyl hofsake aangehoor word.

Huis Tekna vier vanjaar hul 24ste verjaarsdag en is die enigste instansie in die Waterberg-omgewing wat na pasgebore babas kan omsien.

Rainer het gesê hul hoofdoel is om verwaarloosde kinders met liefde en begrip in ’n “normale huishouding” te versorg sodat hulle weer hoop vir die toekoms kan hê.

Huis Tekna beskik oor ’n uitgebreide fondsinsamelingsplan, maar om na kinders om te sien, verg deesdae al hoe meer hulp. Op die foto is Nicky Mollett (Rhino Pride Foundation-verteenwoordiger), Mark Rainer (Huis Tekna-voorsitter) en Jens Lievens (Belgiese borg) wat op Donderdag 5 Mei die instansie met ’n klomp nuwe speelgoed vir die kinders bederf het.

“’n Tipiese huishouding-opset sluit in akkommodasie, ’n eie spasie, kos, klere, skool- en sportprogramme, mediese sorg, terapie en ’n gesonde dosis liefde. Dit is wat ons personeel probeer gee,” het hy gesê.

Die instansie is veral trots daarop dat hulle ’n voltydse en ’n hoogs gekwalifiseerde maatskaplike werker in hul diens het wat die kinders ondersteun.

Die geld wat Tekna ontvang word juis aangewend om na hul fisieke en emosionele behoeftes om te sien, het Rainer gesê. Juis daarom is ’n ooreenkoms met die departement van maatskaplike ontwikkeling gesluit en het hulle onderneem om ’n toelae van R4 000 per kind per maand te betaal.

Dié maandelikse toelae dek ongeveer 52% van die totale uitgawes per maand.

Volgens Rainer beskik Tekna, ná jare se harde werk, oor ’n uitgebreide befondsingsbasis. Geld kom van skenkings uit die gemeenskap, trusts, stigtings en individue wat hul goed-
gesind is.

Die Covid-19-pandemie het egter baie van hul fondinsamelings in die wiele gery en baie van hul donateurs moes noodgedwonge tydens die pandemie self afskaal .

“Ons benodig minstens R7 500 per kind per maand om vir ons kinders die beste sorg te gee wat ons kan.

Dit sluit alles van fisieke- en geestelike versorging tot terapie en liggaamlike versorging in.

“Ons sien om na hulle totdat hulle 12 word en dan plaas ons hulle oor na geriewe wat na ouer kinders omsien.

Rainer rig ’n uitnodiging aan enigiemand wat belangstel om Huis Tekna te besoek sodat hul self kan sien wat dit verg om dié kinders te versorg.

Vir navrae kan mense die instansie bel by tel. (014) 736 3153, of ’n e-pos stuur na info@tekna.co.za(.)

Related Articles

Back to top button