Local newsNews

Ellelange rye nou iets van verlede

Die samedromming en ellelange rye by poskantore landwyd is dalk eersdaags iets van die verlede nadat daar onlangs aangekondig is dat Suid-Afrikaners wat die R350-hulptoelaag van die regering ontvang, dit nie meer by poskantore sal kan afhaal nie.

Statistiek toon dat sowat 46% van alle Suid-Afrikaners een of ander regeringstoelaag ontvang.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling betaal maandeliks pensioen, toelaes vir oorlogsveterane, onderhoud vir kinders, gestremdes asook die maatskaplike hulptoelaag van R350 vir mense wat werkloos geword het weens die Covid-19-pandemie.

Johan Kruger, nasionale woordvoerder van die poskantoordiens, het by navraag gesê die besluit is geneem weens operasionele uitdagings wat poskantore ondervind.

“Poskantore kan nie meer die groot aantal mense wat maandeliks opdaag om hul toelaes te kom afhaal hanteer nie,” het hy gesê.

“Dié hulptoelae word regdeur die maand beskikbaar gestel en aan begunstigdes uitbetaal. Dit veroorsaak dat mense daagliks by talle poskantore saamdrom en wag op hul beurt om gehelp te word.”

Die R350-begunstigdes sal in die toekoms hierdie toelaes slegs by hul naaste Pick n Pay-, Shoprite-, Checkers- of Usave-kettingwinkels kan ontvang. Hierdie winkels het reeds geriewe in plek om vir die begunstigdes voorsiening te maak, het Kruger gesê.

Die ander regeringstoelaes word steeds tussen die derde- en vyfde dag van die maand.by die poskantoor uitbetaal.

Kruger het gesê werkloses kan nou weer aansoek doen vir die R350-toelaes nadat die departement die tydperk om vergunning van April vanjaar tot Maart 2023 verleng het.

Nuwe aansoekers kan die webtuiste www.srd.sassa.gov.za vir meer inligting besoek.

  • In Bela-Bela is die munisipaliteit tans besig om inwoners wat kwalifiseer as hulpbehoewendes vir die komende termyn te registreer.

Dit sluit inwoners in wat ’n totale inkomste van nie meer as R3 800 per maand per huisgesin ontvang nie.

Hierdie inwoners kom in aanmerking vir 50 kw gratis elektrisiteit, asook 6 kl water per maand. Hulle betaal geen belasting nie en ontvang gratis vullisverwydering. Aansoekvorms is by die munisipale kantoor beskikbaar.

Die nasionale tesourie is verantwoordelik daarvoor om die toelaes aan munisipaliteite oor te dra om voorsiening te maak vir gratis dienste aan hulpbehoewendes.

Die nuwe munisipale geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) dui aan dat die munisipaliteit bekommerd is oor die drastiese toename in die aansoeke vir dié vergunning.

Altesame 4095 huishoudings in Bela-Bela ontvang volgens die GOP-dokument tans gratis dienste.

Die Bela-Bela GOP-dokument is egter sedert 2019 nie opgedateer nie en dus kan die syfer in die komende termyn heelwat anders lyk.

Related Articles

Back to top button