Local newsNews

Bejaarde inwoner sê krisis met krag knou hom erg

Die kragsituasie in die Noodhulp- en Roodepoort-omgewing buite Bela-Bela het inwoners nou op moedverloor se vlakte. Dié omgewing gaan gebuk onder aanhoudende kragonderbrekings wat onder meer toegeskryf word aan onvoldoende instandhoudingswerk. Daan Spies, ’n 77-jarige Noodhulp-inwoner, het die afgelope week by Die Pos gekla omdat hy die afgelope tien weke met ongekende kragonderbrekings moes saamleef. …

Die kragsituasie in die Noodhulp- en Roodepoort-omgewing buite Bela-Bela het inwoners nou op moedverloor se vlakte.

Dié omgewing gaan gebuk onder aanhoudende kragonderbrekings wat onder meer toegeskryf word aan onvoldoende instandhoudingswerk.

Daan Spies, ’n 77-jarige Noodhulp-inwoner, het die afgelope week by Die Pos gekla omdat hy die afgelope tien weke met ongekende kragonderbrekings moes saamleef.

“Die munisipale tegnici het einde Februarie ’n transformator op my eiendom ontkoppel nadat dit foutief geraak het. Die kragpunt is tot nou nooit herstel of vervang nie,” het hy gesê.

“Danksy mense soos Gerhard Bloem en Tinus Ras, DA-raadslid, is ’n kragkabel vanaf die bure se eiendom na myne aangelê. Ongelukkig kan ek nie my hoewe met die beperkte kragkapasiteit optimaal bedryf nie. Ek ry al nege weke lank water vir my beeste aan. Dit strem my gesondheid, want ek is nie meer jonk nie.”

Hy beweer sy talle navrae aan die munisi-paliteit oor die herstel van sy kragtoevoer werp geen vrugte af nie. Spies het aan Die Pos gesê hy het al duisende rande aan brandstof bestee.

“Dit neem my ongeveer drie uur om my eiendom daagliks te beveilig en om my toerusting agter slot en grendel te kry. Dit sou my baie moeite gespaar het as my veiligheidsligte en alarmstelsels weer optimaal kon werk. Dit dien darem as ’n afskrikmiddel vir diewe.”

Ras het by navraag gesê munisipale werkers het hul samewerking gegee, maar die voorsiening van onderdele en vervanging van foutiewe infrastruktuur is die eintlike probleem.

“Die munisipaliteit benodig nou ingevolge wetgewing toestemming van die nasionale tesourie vir enige aankope wat meer as R30 000 is. Transformators kos aansienlik meer as R30 000,” het hy gesê.

“Die munisipaliteit sou verlede week met amptenare van die tesourie-afdeling in gesprek getree het om die nodige toestemming te verkry, maar nog geen terugvoer is ontvang nie. Al beskik die munisipaliteit oor die geld, benodig hulle steeds die amptelike toestemming,” het Ras gesê.

Navrae aan die munisipaliteit se kommunikasieafdeling is teen druktyd nie beantwoord nie.

  • Die vertraging in dienslewering het ontstaan nadat Sakeliga die nasionale tesourie in die grondwethof uitgedaag het oor die nasionale voorkeurvergrygingsbeleid rakende tenders en swart ekonomiese bemagtiging (SEB).

Sakeliga het geargumenteer dat SEB, wat ’n vereiste was om aansoek te doen vir regeringstenders, ongrondwetlik is.

Sakeliga het voorts in ’n verklaring gesê SEB-voorvereistes het die afgelope vyf jaar tot die verlies van miljarde rande gelei en bygedra tot swak dienslewering.

Die tenders wat toegestaan is, was beperk tot ’n klein, polities verbonde groep tenderaars en die volle mark diensverskaffers het nie die geleentheid gekry om te tender nie, het Sakeliga aangevoer.

Sakelui moes dus hul aandeelhouding verwater as hul staatstenders wou bekom.

Sakeliga het in Februarie die saak teen die tesourie gewen en die grondwethof beveel het om die SEB-vereistes as ongrondwetlik te verklaar.

Die nuutste voorgestelde vergrygingsregulasies sluit SEB uit.

Die uitspraak het egter teweeg gebring dat munisipale verkrygingsprosesse, soos met die aankoop van transformators, sedertdien die wind van voor kry.

Enige aankope bo R30 000 moet die goedkeuring van tesourie hê.

Die tesourie het in reaksie gesê sekere entiteite en munisipaliteite kan nou aansoeke rig om in terme van die betrokke entiteit se vergrygingsbeleid hul aankoopprosesse te hervat.

Sakeliga het in reaksie gesê hoewel hul die hofsaak gewen het, dink hul nie dit is die einde van SEB in die land nie. Hulle is van mening dat diegene wat ten gunste van SEB is en daarby gebaat het, maniere sal vind om wetgewing tot hul voordeel te probeer misbruik.

Related Articles

Back to top button