Local newsNews

Warrie-rugbyster per helikopter na hospitaal gevlieg

Die Enslin-gesin van Bela-Bela slaak ’n sug van verligting nadat die besering wat hul seun Johan (14) tydens ’n rugbywedstryd opgedoen het, nie permanente skade gelaat het nie.

Johan Enslin (14) kort nadat die paramedici hom gestabiliseer het en per ambulans hospitaal toe
geneem het voordat hy per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas is.
Johan het geen permanente skade opgedoen nie en is ná drie dae in die hospitaal ontslaan.

Die spanne van Hoërskool Warmbad het op Saterdag 7 Mei teen die spanne van Hoërskool Eric Louw in Musina te staan gekom.

Johan het hom van jongs af al as uitstekende sportman onderskei. Hy het die afgelope Saterdag vir die o.16-span uitgedraf. Hy is aan die einde van die atletiekseisoen aangewys as junior Victor Ludorum by Hoërskool Warmbad. Hy het ook sy merk gemaak op die Bosveld Interhoër in Mokopane. Johan is in die wedstryd teen Hoërskool Nylstroom aangewys as speler van die wedstryd.

Volgens sy ouers, Jimmy en Dina, lyk dit asof Johan verlede Saterdag beseer is nadat hy en ’n speler van Eric Louw teen mekaar vasgehardloop het op die veld.

Dit is steeds nie presies seker hoe dit gebeur het nie.

Johan Enslin is vroëer vanjaar aangewys as junior Victor Ludorum by Hoërskool Warmbad.

“Ons is van mening dat dit ’n ongelukkige voorval was,” het Dina gesê. “Die impak van die slag het veroorsaak dat Johan sy bewussyn verloor en hy het eers heelwat later in die ambulans op pad hospitaal toe sy bewussyn herwin. Hy is toe per helikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Parktown, Johannesburg, gevlieg. Ons het regtig geglo hy is verlam.”

By die hospitaal is toetse gedoen, X-strale en skanderings geneem en vasgestel dat Johan geen bene gebreek of breinskade opgedoen het nie. Hy het egter verskeie
spiere beseer en sal vir ’n tydjie sukkel om te beweeg, maar hy het geen permanente skade opgedoen nie, het sy ouers gesê.

Hy is reeds op die herstelpad en is ná drie dae in die hospitaal op Maandag 9 Mei ontslaan.

“Ons wil graag vir Tiaan Botes, Warrie-onderwyser, en vir Karen Vorster, Warrie-skoolhoof, bedank vir hul wonderlike ondersteuning. Ook elke persoon wat ’n boodskap gestuur, oproep gemaak en vir ons kind gebid het, baie dankie sê dat hul in sy welstand belangstel. Dit word opreg waardeer,” het sy ouers gesê.

Related Articles

Back to top button