Local newsNews

Sonstraal-tehuis vier Moedersdag

Die inwoners van die Sonstraal-tehuis in Modimolle het spesiale kaartjies gemaak vir Moedersdag wat op Sondag 8 Mei gevier is.

Die tehuis wat hul deure op 1 Februarie 2021 geopen het in Magazynstraat Modimolle, het intussen na ’n pragtige huis in Bassonstraat, Modimolle, verskuif. Hier word die fisiek- en verstandelikgestremde inwoners ouer as 18 jaar in ’n liefdevolle huislike omgewing versorg deur toegewyde personeel.

Die tehuis kan agt voltydse inwoners akkommodeer en daar is tans plek beskikbaar vir nog drie inwoners.

Daar word daagliks werkwinkels en groepaktiwiteite aangebied wat die inwoners en dagbesoekers stimuleer. Die daaglikse oefenprogram, asook weeklikse perdry- en swemlesse vorm deel hiervan.

Hantie van Aardt, hoof van die Sonstraal Skool vir Buitengewone Onderwys, behartig ook die bestuur van die Sonstraal-tehuis. Albei is privaatinstansies, wat deur dieselfde beheerliggaam bestuur word.

“Die skool ontvang geen staatshulp nie en is geregistreer as ’n nie-winsgewende organisasie wat Artikel 18 A sertifikate kan voorsien aan donateurs vir belastingvoordele. Fondse word gegenereer deur verskeie fondsinsamelingsprojekte en donasies maar dit bly deurgaans ’n uitdaging. Ons benodig tans ’n betroubare voertuig om inwoners van die tehuis en leerders van die skool veilig te vervoer,” het van Aardt gesê.

Belangstellendes wat graag betrokke wil raak kan die skool se webwerf www.sonstralers.wixsite.com of Facebook-blad besoek. Bel gerus vir Hantie van Aardt by tel. 083 612 0975 vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button