Local newsNews

Kokanje-inwoners dans dat die stof staan by opskop

Inwoners van die Kokanje-aftreeoord buite Modimolle het op Saterdag 23 Maart behoorlik gedans dat die stof staan tydens die Bos-opskop.

Die geleentheid is deur lede van die Kokanje-kunsklub, onder leiding van Marina du Plessis, aangebied. Du Plessis het aan Die Pos vertel die aand is moontlik gemaak deur drie borge in Modimolle — Jaco de Villiers (De Villiers Hardeware), Jac de Wet (PSG Nylstroom) en James Wright (Namib Kameeldoring-braaihout Limpopo).

Gaste is bederf met heerlik southappies as voorgereg, skaap op ’n spitbraai met bygeregte soos pasta-, druiwe- en perskeslaai. Vars tuisgebakte brood en vetkoek is saam met ’n verskeidenheid smullekker konfyte bedien terwyl die nagereg van koeksisters en outydse konfyttertjies in prettige blikbekers voorgesit is.

Die kunsklub het die tafels en saal keurig versier in swart en koper om te pas by die Bos-tema met tiervel en kamoefleerdragpatrone. Kremetartbome van draad is gebruik as tafelrangskikkings en ’n groot Bosveldboom op die verhoog.

Gert van Tonder, legendariese sanger en lid van die eertydse Groep 2, het saam met Annaretha Anza Naudé gesorg vir ’n pragtige musiekuitvoering waarna inwoners tot laataand op al die geliefde ou treffers gedans het.

Almal was dit eens dat hierdie Bos-opskop ’n groot sukses was.

Related Articles

Back to top button