Local newsNews

Hulk is weer perdfris en gesond ná slangbyt

’n Gesin van Mookgophong is baie dankbaar dat hul geliefde hond, Hulk, weer saam met hulle op die plaas kan wees nadat hy van ’n slangbyt herstel het.

Die Bothas woon net buite die dorp en het op Vrydag 29 April byna hul geliefde staffie verloor nadat hy deur ’n swartmamba van 2,87 m gebyt is.

“My vrou, Ashley, en kleinkind was saam met Hulk op pad na die tuinhekkie reg langs die huis toe Hulk die mamba gewaar. Hy het die slang, wat teen die huis opgeseil het, aan die stert beetgekry. Die slang het Hulk in die lies gebyt en toe tussen die geboue verdwyn. Die slang is ná ’n lang soektog opgespoor en vankant gemaak,” het Rudi Botha aan Die Pos vertel.

Die Bothas het dadelik begin rondbel om teengif in die hande te kry. Dr. Pierre Bester, veearts wat naby hulle woon, was nie op daardie stadium tuis nie. Hulle het besluit om met Hulk na Mookgophong te ry waar dr. Naomie Smith vir hulle met die teengif gewag het en dit dadelik toegedien het. Daar het egter toe reeds 20 minute verloop vandat die slang hom gebyt het.

Dr. Naomi Smith, veearts van Mookgophong, met die staffie, Hulk, wat die byt van ’n swartmamba oorleef het nadat sy hom intensief behandel het.

“My eerste gedagte was dat hulle nie betyds gaan wees nie, want in die meeste van die gevalle waar diere deur slange gebyt word, is die tydsverloop te lank. Hy kon ná twee minute nie meer gemaklik asemhaal nie. Ons het hom dadelik op ’n handventilator geplaas om suurstof toe te dien,” het Smith gesê.

Hoewel hy verlam was van die gif, het sy hartklop telkens versnel wanneer hy Rudi hoor praat het.

Rudi, Ashley en Smith het van Vrydagmiddag af om die beurt die suurstof toegedien totdat Hulk op Maandagoggend 2 Mei om 06:00 sy tong begin beweeg het. “Ons het van Vrydag tot Dinsdagoggend toe hy ontslaan is, op die vloer in die praktyk geslaap,” het Rudi vertel. Hulk was nog wankelrig en Rudi moes hom dra.

Hulk het intussen heeltemal herstel en is nou weer sy ou self.

“Hy is al weer besig om stout te wees en is ’n bondel spiere met te veel energie. Ons arms is nou só gespierd; ons lyk soos Popeye die strokieskarakter ná die aanhoudende toediening van suurstof met die ventilator. Dat Hulk lewe is ’n wonderwerk,” het ’n dankbare Rudi gesê.

Talle mense het Hulk se verhaal op sosiale media gevolg en Rudi het landwyd oproepe ontvang van goeie wense.

“Dit is so goed om te sien dat daar nog iemand soos dr. Naomi is wat so baie omgee en die ekstra myl stap om te help,” het Rudi gesê.

Die bekende slangkenner en -boer, Mike Perry, het Smith op Maandag 9 Mei besoek en ’n video-opname oor Hulk gemaak en die behandeling wat hy gekry het. Perry voorsien slanggif wat hy melk by die slange in sy besit en voorsien dit aan ’n laboratorium om teengif te vervaardig.

Related Articles

Back to top button