Local newsNews

Gaste verras met vermaak op Moedersdag

Die gaste wat op Sondag 8 Mei by die Steek-my-weg-buitelugrestaurant buite Mookgophong vir ’n Moedersdagete opgedaag het, was aangenaam verras toe hulle deur twee bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars vermaak is.

“Dit was nou regtig iets anders as die gewone program,” het een van die gaste aan Die Pos gesê.

Die 104 gaste is deur die bekende tenoor, Johann du Toit en ewe bekende Will Jordan vermaak met sang uit die boonste rakke. Du Toit is ’n Suid-Afrikaanse tenoor wat gereeld op verhoë wêreldwyd optree.

“Jordan was ’n gewone kliënt wat ’n Moedersdag-bederf vir sy vrou, Elize bespreek het. Johann het hom gevra om die bekende Jerusalem-lied saam met hom te sing en die gaste was aangenaam verras oor die manne se stemme saam,” het André Pienaar vertel.

Jordan het toe sommer besluit om nog ’n paar goue liedjies te sing en sy repertoire het gewissel van Elvis Presley tot Neil Diamond.

Jordan is weer bespreek vir die Naboom-aandkontreimark wat op Vrydag 19 Augustus in die aand aangebied word. Besoekers kan van 15:00 tot 22:00 deur die stalletjies loop en hul verlustig in die keur produkte wat te koop is.

Die gewone Naboom-kontreimark is baie gewild en sal weer op Saterdag 21 Mei plaasvind nadat dit twee keer uitgestel is weens die swaar reën wat oor die dorp uitgesak het. Daar is 90 unieke stalletjies. Die besoekers kan kies uit eksotiese disse van Meksiko of China. Die mark se bekende pizzas sal ook weer te koop wees.

Related Articles

Back to top button