Local newsNews

Bekende Modimolle-tuinvrou gegroet

Inwoners van Bosveldsig in Modimolle praat altyd van die Van Vuuren-egpaar se pragtige tuin.

Dit is die jarelange handewerk van Erna Jansen van Vuuren (88) sedert sy en haar man, Natie (88) van Vuuren, in 2001 hier afgetree het.

Erna, wat in Junie vanjaar haar 89ste verjaardag sou vier, is onverwags op Dinsdag 12 April ná ’n kort siekbed oorlede. Sy het op Saterdag 19 Maart ’n ernstige beroerte gehad waarna sy per ambulans na ’n privaat hospitaal in Pretoria geneem is. Haar toestand het ongelukkig nie verbeter nie.

Die begrafnis is op Vrydag 22 April vanuit die Gereformeerde Kerk Nylstroom-gemeente deur ds. Henk Stavast gehou.

Die egpaar het voorheen vir meer as 33 jaar in Potchefstroom gewoon waar Natie eers as leerkrag by Hoërskool Gimnasium werksaam was en later as professor by die Potchefstroomse Onderwyskollege.

Volgens Natie het hy en Erna destyds as studente in Potchefstroom ontmoet en ná ’n verhouding van twee jaar die knoop op 17 Desember 1955 deurgehaak. Die egpaar het ’n gelukkige huwelik van 66 jaar geniet en is geseën met twee kinders. Hul seun, Chris, praktiseer as advokaat in Pretoria terwyl hul dogter, Retha Erasmus, in Modimolle woon. Hulle het altesame agt kleinkinders en twee agterkleinkinders.

Erna, ’n nooi Snyman, is in 1933 op ’n plaas buite Zeerust gebore — vandaar haar liefde vir die natuur. Sy het ’n uitgebreide kennis oor plante gehad en ’n passie vir tuinmaak. Sy het graag die Beeld-koerant gelees om op hoogte te bly van aktuele sake en die afgelope 20 jaar ook weekliks Die Pos-koerant se gemeenskapsnuus geniet.

Natie wil graag sy dank betuig teenoor familie, vriende, bure en die gemeenskap vir hul onderskraging in hierdie moeilike tyd.

Related Articles

Back to top button