Local newsNews

Nyl lewer ’n skouspel

Die Nylrivier, ook bekend as die Klein Nyl, het vanjaar ná agt jaar weer ’n skouspel opgelewer.

Walkie Kruger, wat in die Nylgebied buite Mookgophong grootgeword het, het die statistiek van die vloei van die rivier vanaf 1968 aangeteken. Hy het aan Die Pos gesê dat die Nyl elke sewe tot tien jaar in vloed is soos wat die afgelope twee weke getuig het. Sy pa het die reënval neergeskryf.

“Ek en my boetie het kleintyd skape in die vleilande opgepas en as die Nyl geloop het soos vanjaar, het ons sommer babers in die lande gevang,” het hy skertsend vertel.

Die vorige keer dat die Nyl so sterk soos nou gevloei het, was in 2001. “Dit het wel ook in 2014 sterk gevloei, maar nie naastenby soos nou nie,” het hy gesê.

“Die gemiddelde reënval in die opvangsgebied is 400-600 mm per jaar en hierdie reënseisoen het dit gewissel van 750 mm tot 950 mm,” het Floris Booysen, voorsitter van die Potgietersrus Distrik Landbou-unie (DLU) gesê.

Die boere is ook verheug oor die goeie reën en die Nyl voed op sy beurt ook die ondergrondse watertafel in die omgewing.

Die Nyl is ook een van twee riviere wat van suid na noord loop en is afhanklik van die goeie reën in die Waterberg. Dit ontspring by De Nyl Zyn Oog tussen Bela-Bela en Modimolle en is die bo-loop van die Ngwaditse- en Mogalakwenariviere (by Mokopane) wat eindelik ’n regter sytak van die Limpoporivier vorm. Noordoos van Modimolle loop dit deur ’n vloedvlakte wat deels deur die Nylsvley-natuurreservaat beskerm word.

Die Nylrivier-vloedvlakte is een van Suid-Afrika se grootste vloedvlaktestelsels wat nog ongeskonde is en strek oor ’n afstand van sowat 70 km en is ongeveer 7 km op sy breedste punt. Die vloedvlakte is nie permanent onder water nie en is die tuiste van baie voëlspesies.

Inus Smit, ’n boer op die plaas Weltevreden in die Mookgophong-omgewing, het aan Die Pos gesê sy gronddam het gebreek van die sterk vloei van die rivier, maar hy is net dankbaar vir die water.

“Ek kan weer die dam herstel, maar ons kan nie sonder die water nie,” het hy gesê.

Related Articles

Back to top button