Local newsNews

Hou die tuine mooi en lok voëls

Die deurdringende reën wat die afgelope tyd kort-kort oor die Bosveld uitgesak het, is goeie nuus vir ywerige tuiniers.

Dit is egter nodig dat tuiniers voorsorg tref dat die tuin nie in ’n modderbad ontaard nie.

Venita Terblanche van die Nylstroom-tuinbouvereniging se raad is dat tuiniers altyd hul direkte omgewing en klimaat in ag moet neem wanneer hulle tuinuitleg beplan. Plante wat nie in die Waterberg-omgewing voorkom nie, sal moeilik hier aanpas en sukkel om te groei.

“Om die poele water te vermy wat gewoonlik ná ’n hewige reënbui ontstaan, kan mense terrasse bou wat die oortollige water filtreer en die plante kan maklik groei in die beddings op die terrasse,” het sy gesê.

“Werk droë sand en klippe in die grond in. Soek plante wat in die omgewing aard.”

Volgens haar is daar verskeie maniere om voëlspesies na tuine te lok.

“Voëls soos hadidas verkies oop grasperke en vinke is baie lief daarvoor om in sand te speel.”

“Suikerbekkies is gaande oor suikerwater. Hulle drink gewoonlik drie keer die hoeveelheid water as hul totale gewig. Ongeveer drie lepels suiker per bottel water is voldoende en kan buite in die bome aangebring word waar die voëls dit maklik kan bykom.”

Voëlbaddens is altyd ’n aanwins vir ’n tuin se karakter, maar die water moet vlak wees, het sy gesê.

“Vetplante lok insekte wat op hul beurt weer voëls sal lok. Sekere voëlspesies hou veral van meelwurms. Tuiniers kan ook vleissaagsels in dennebolle buite ophang. Om graspolle buite onder die bome op te hang is nog ’n opsie om voëls te lok,” het sy gesê.

“Verder is vrugte soos appels, pere, piesangs en papajas goeie lokaas. Mense kan dit in spykerhouers ophang. Erwe met groot bome en goeie skaduwee is ook ’n natuurlike habitat waar voëls veilig voel.”

Die tuinbouvereniging ontmoet gereeld om oor hul liefde vir tuinmaak en natuurskoon te gesels.

Vir navrae en projekidees kan mense vir Terblanche bel by tel. 082 872 8822.

Related Articles

Back to top button