Local newsNews

Sanral beplan nuwe opgradering aan pad

Daar is gemengde gevoelens onder inwoners oor beplande pad-opgraderings tussen Bela-Bela en Thabazimbi nadat verteenwoordigers van die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) op Donderdag 21 April met inwoners ontmoet het.

Die kennisgewing is na verneem word in September 2021 uitgereik dat Sanral die gedeelte vanaf Tooyspruit na Bela-Bela (ongeveer 84 km) gaan opgradeer.

Daar het oor die afgelope jare verskeie opgraderings op hierdie pad plaasgevind.

Inwoners het tydens elke projek gekla oor die tyd en inkomste wat verlore gaan tydens die bouprojekte.

Bykomende opgraderings word volgens André van Pletzen, projekleier van die BVi Group en kontrakteur wat die werk sal doen, beplan.

Volgens die voorlegging sal die verkeersirkel herbou word sodat verkeer beter kan vloei.

Swanepoel- en McCordstraat sal voetgangerstrepe ontvang. Chris Haniweg tot in Potgieterstraat sal herbou word. Drie verkeersbane word vanaf die sirkel na die dorp beoog en twee bane in die rigting van die Thabazimbi-pad.

Van Pletzen het gesê om die verkeersopeenhopings wat gereeld plaasvind tee te werk, sal die middelman deur die hoofstraat toegebou word sodat geen voertuig by die bestaande toegee-punte kan op- of afdraai nie.

Toegang tot die SuperSpar-kompleks sal dus slegs by wyse van drie ingange verkry kan word — vanaf Minnaar- en Pretoriastraat. Wanneer die middelman op die kruising van Ritchie- en Chris Hanistraat herbou word, sal motorryers slegs van Chris Hanistraat toegang by die vierrigtingstop tot Spar kan verkry, maar nie vanaf Ritchiestraat nie.

Motorryers wat gereeld op die toegee-kruising van Grobler- en Chris Hanistraat regs draai, sal voortaan by die sirkel moet regs draai en dan in Mentzlaan toegang tot Groblerstraat verkry. Voertuie sal egter vanuit Groblerstraat by die Chris Hanistraat-kruising wel links kan draai, het Van Pletzen gesê.

Die oop stormwatersloot wat verby die Warmbad-hospitaal lei sal toegebou en met ’n voetgangerpad vervang word.

BVi beoog om op hul werksroete nuwe en werkende verkeersligte te installeer.

Toegang tot Chris Haniweg sal slegs vanaf, Minnaar-, Pretoria-, Potgieter- en Kretzchmarlaan bekom word, asook vanaf die verkeersirkel op die Thabazimbi-pad.

Lede by die vergadering het hul kommer uitgespreek dat swaarvoertuie nou in Pretoriaweg sal moet afdraai en moontlike verkeersprobleme kan veroorsaak. BVi het kennis geneem van die beswaar.

Van Pletzen het gesê hulle beplan om oor ’n jaar met die projek te begin.

Hoewel die opgraderings as goeie nuus kom, is daar inwoners en sake-eienaars op die R516-pad wat sê dat hulle toegang beperk sal word. Grondeienaars wie se afritte nooit korrek in terme van die wet geregistreer is nie, sal direk geraak word, het Van Pletzen gesê.

Sanral beplan om grondeienaars in die toekoms te nader en om alternatiewe roetes deur verskeie eiendomme en hoewes te skep vir inwoners om steeds na die dorp en terug te kan ry. Hierdie grondeienaars sal vergoed word, het Van Pletzen gesê.

Van die sakelui het op die vergadering gedreig om hofaansoeke te bring indien die beperkings hul ondernemings negatief beïnvloed.

Verdere samesprekings sal eersdaags weer gehou word.

Related Articles

Back to top button