Local newsNews

Skoolmeisie leer vroue hekel

Werkskepping is ’n brandpunt in Suid-Afrika en dit is veral swart vroue van alle ouderdomme en jongmense tussen 15-24-jarige ouderdom wat die swaarste getref word.

Volgens Statistiek Suid-Afrika (StatsSA) is daar nou altesame 7,9 miljoen Suid-Afrikaners wat werkloos is terwyl die amptelike werkloosheidsyfer teen die einde van 2021 tot ’n rekordhoë 35,3% toegeneem het. Die uitgebreide werkloosheidsyfer, wat ook ontmoedigde werksoekers insluit, staan nou op 46,6% terwyl die werkloosheid onder die jeug (15-24 jaar) ’n verbysterende 65,5% is.

Daar is ’n bekende aanhaling: Gee vir iemand ’n vis en hy het kos vir ’n dag, maar leer iemand hoe om vis te vang en hy het kos vir ’n leeftyd.”

Met hierdie aanslag in gedagte het ’n jong meisie van Modimolle, Chloë Pringle (13), haar passie vir hekel met werklose vroue gedeel. Na aanleiding van hul huiswerker, Margaret (Badimo) Radzilani, se versoek, het Chloë gedurende die Paasnaweek vir hul huiswerker, dié se dogter en nog drie ander werklose vroue begin leer hoe om te hekel. Nie een van die vroue het al voorheen gehekel nie, maar volgens Chloë vaar hulle almal uitstekend.

Tydens die tweede les, wat op Vrydag 22 April plaasgevind het, het die vroue geleer hoe om ’n snoesige mussie vir die winter te maak.

“Die doelwit met hierdie praktiese lesse is om die vroue te help om ’n inkomste te verdien met die items wat hulle maak,” het Chloë gesê.

Volgens weerkundiges kan ons ’n lang, koue winter te wagte wees, so serpe, mussies en handskoene sal beslis topverkopers wees.

Chloë, ’n gr.8-leerder aan Hoërskool Nylstroom, is gebore met skeppende vaardighede en ’n voorliefde vir naaldwerk. Sy het tydens ’n skoolvakansie in gr.3 geleer hekel en het sedertdien talle aanlynvideo’s en patrone bestudeer om ’n groot verskeidenheid items te maak. Sy het onlangs ’n pragtige baadjie vir een van haar vriendinne gehekel en is nou besig met ’n trui. Chloë skep haar eie patrone en het al pantoffels, plekmatjies, pennesakkies, serpe, mussies en nog talle ander items gehekel. Sy maak ook items soos handskoene, komberse en haarrekkies op bestelling wat sy verkoop vir sakgeld.

Haar ma, Gerda Pringle, wat in 2021 aangestel is as hoof van Eenheid Primary School in Modimolle, vertel dat sy haar dogter se hekellesse heelhartig ondersteun.

“Dit sal wonderlik wees as ander inwoners ook hul talente en vaardighede met werkloses deel sodat ons die swaarkry in ons gemeenskap kan help verlig,” het Pringle gesê.

Die Pos se kinderfonds het onlangs ’n geldelike bydrae tot Chloë se projek gemaak om vir elke vrou ’n stel hekelpenne en ook wol aan te skaf.

Enige skenkings van oorskietwol en materiaal sal opreg waardeer word. Skenkings kan gedurende kantoorure by Die Pos se kantore in Modimolle of Bela-Bela afgegee word.

Related Articles

Back to top button