Local newsNews

Geite en giere…

Wat gebeur in- en om die Waterberg?

Die Waterberg-sakekamer het tydens hul byeenkoms op Woensdag 13 April ’n skenking van R20 000 aan Pieter Bezuidenhout oorhandig as bydrae vir die herstel van slaggate in Modimolle. Bezuidenhout is die eienaar van Megs wat sedert 2021 deurlopend hulp verleen het met inwoners se projekte om slaggate in verskeie woonbuurte te herstel. Gerhardt Breytenbach, voorsitter van die Waterberg-sakekamer, het die tjek aan Jessica en Pieter Bezuidenhout oorhandig. Bezuidenhout het op sy beurt die sakekamer se vorige voorsitter, Wiets Botes, asook Fernando Goncalves en ander lede bedank vir die skenking. “Ek bedank ook elke inwoner wat probeer om van Modimolle ’n beter plek te maak. Dit is voorwaar lekker om ’n inwoner van dié dorp te wees,” het hy gesê.
Die Waterberg-sakekamer het ’n nuwe bestuur verkies met Gerhardt Breytenbach van Breytenbach-Keulder-prokureurs in Modimolle aan die stuur van sake. Maggie Grobler is die nuwe kontakpersoon wat by Estelle Mans oorneem. Op die foto is Maggie Grobler (sekretaris), Charmaine Riddle (Remax) en Hennie Blignaut (HP Elektries). Agter is Martiens Joubert (Action Ford Modimolle), Gerhardt Breytenbach (voorsitter), Leon Binneman (FNB Bela-Bela), Paul Els (Nylstroom Taxidermy) en Fernando Goncalves (Pavecon). Drummond Hammond (Bosveld Diesel in Bela-Bela) was afwesig met die neem van die foto.
Warmpatat: Die gesegde lui: Wanneer dit pap reën, moet jy skep en dit is presies wat hierdie vindingryke manne gedoen het deur gou hul minibustaxi te was terwyl die water bo-oor die laagwaterbrug stroom. Die foto is op Woensdag 13 April in Modimolle geneem nadat oorvloedige reën die voorafgaande paar dae geval het. Die meeste van die laagwaterbrûe in die omgewing het oorstroom. Mense word gewaarsku om nie met hul voertuie deur die water wat bo-oor die laagwaterbrûe vloei, te ry nie.
Die toestand van die R516-pad tussen Bela-Bela en Settlers is ’n groot bron van kommer vir motorryers. Hoewel die snelheidsperk 80 km/h is, ry motorryers teen ’n slakkepas (en soms uit hul bane) om die talle diep slaggate te vermy. Die Limpopo-padagentskap (RAL) dra die verantwoordelikheid vir die herstel van die pad. Maropeng Manyatela, RAL-woordvoerder, het aan Die Pos gesê RAL se finansiële jaar, waar vir nuwe projekte begroot word, het reeds in April begin en daar sal eers gekyk moet word of daar geld vir bykomende projekte soos die opgradering van dié pad is. Geen verdere inligting is teen druktyd uitgereik nie. Op die foto is Freddy Rasasamola, plaaslike inwoner, wat verlede week probeer het om gate self op te vul voordat dié toegangsroete die druk Paasfeesverkeer na Bela-Bela moes dra.
Die onderskeie tolhekke op die N1-snelweg het op Donderdag 14 April ongeveer 1 900 voertuie per uur in albei rigtings hanteer. Die nat paaie het bygedra tot ernstige ongelukke. Twee mense is op Vrydag 15 April dood en ses is beseer in verskillende ongelukke buite Bela-Bela en Northam. Twee ander mense het dieselfde dag in die Mopani- en Capricorn-distrik verongeluk. Nalatige en/of roekelose bestuur, asook spoed, het volgens die polisie bygedra tot die ongelukke. Op die foto staan die voertuie op Maandag 19 April vir kilometers by die Carousel-tolhek.
Die Dameskring in Modimolle bied op Saterdag 21 Mei ’n heerlike oggend vir die vroue van die omgewing aan. Candice Vorster, bekende aanbieder van Vat jou goed en trek en Nes op sy bes op KykNet, sal die vroue toespreek en bemoedig. Sy het as kind self kanker oorwin en het voor groot uitdagings te staan gekom. Marlene van Staden, burgemeester van die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit, en Elphi Taljaard, Dameskring-president, sal ook optree. Vir kaartjies of meer inligting bel vir Dalene Snyman by tel. 082 374 8863 of Susan Le Roux by tel. 082 298 9277.

Related Articles

Back to top button