Local newsNews

Bela-Bela-damvlakke oortref vorige rekords

Die afgelope Paasnaweek is gekenmerk deur deurdringende reën en temperature wat skielik gedaal het.

Die son het vir die eerste keer in vier dae sy kop op Maandag 18 April uitgesteek.

Die gemiddelde reënval in die Bela-Bela-omgewing vir die naweek was 116 mm.

Henk van de Graaf, voorsitter van die Waterberg Distrikslandbou-unie, het by navraag gesê talle plaaspaaie in die omgewing het verspoel. Dit maak dit vir boere baie moeilik om hul produkte mark toe te neem of om inspeksies op hul plase te doen.

“Mense moes ompaaie ry om die R516-pad te bereik. Selfs hoër voertuie kon plek-plek nie deur die strome water ry nie,” het hy gesê.

“Daar is nie berigte van groot skade in ons omgewing nie, maar ons verneem dat boere wat met gewasse soos tamaties boer, wel vloedskade gehad het.”

Hy het gesê vanjaar se reënval is bogemiddeld. Volgens hom is daar dié reënseisoen (wat van September 2021 tot nou strek) reeds 1 000 mm reën in die omgewing aangeteken.

“Daar is in April 2021 slegs 10 mm aangeteken, maar vanjaar is daar net in April reeds 220 mm gemeet,” het Van de Graaf gesê. “Die damme is vol en die ondergrondse watertafel is besig om baie goed te herstel. Dit is ook lekker om te hoor dat fonteine in die Waterberg weer vloei.”

Armand Delaport, voorsitter van die Warmbad-besproeiingsraad, het in reaksie gesê die drie damme — Bischoff’s-, Fish Eagle Bay- en Warmbad-dorspdam — loop reeds sedert Desember oor.

Die omgewing sal dus genoeg water vir die wintermaande hê as dit nie vermors word deur stukkende waterpype of ander onvoorsiene omstandighede nie.

“Danksy die goeie reënval van die Paasnaweek verwag ek dat die damme eers teen Augustus nie meer hul walle sal oorstroom nie,” het hy gesê. “Skade aan infrastruktuur weens oorstromings moet nog vasgestel word. Sover my kennis strek staan die nuwe brug in Roodepoort, asook die bestaande brug op die R516-pad, nog stewig. Ongelukkig het die laagwaterbrug wat na die ou Warmbad-dam se sluise lei, oorspoel en die watervlak sal eers moet sak voordat daar ’n bestekopname van die skade gedoen kan word.”

Hy het mense aangeraai om laagwaterbrûe wat oorstroom te vermy.

Die krag van water word dikwels onderskat en kan voertuie meesleur, het hy gesê.

Related Articles

Back to top button