Local newsNews

Bek-en-klouseer moet beter beheer word

Die omvangryke uitbraak van bek-en-klouseer in 2019 is nog vars in die geheue van veeboere wat nou weer ekstra maatreëls in plek moet kry om dié hoogs aansteeklike siekte te bekamp.

Die provinsie het miljarde rande se skade gely en die provinsie se ekonomie het nog nie daarvan herstel nie.

Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het op Dinsdag 22 Maart ’n mediaverklaring uitgereik nadat vee op ’n stoetplaas in Noordwes positief getoets is vir dié siekte.

Die siekte het vermoedelik reeds in Oktober 2021 in die omgewing van Potchefstroom uitgebreek. Daar is ook bevestig dat die siekte reeds in Maart in die Giyani-omgewing, deel van die Vhembe-distrik in Limpopo, opgemerk is wat nou tot ’n rooi sone verklaar is.

Nog talle voorvalle word ondersoek in die Vrystaat, KwaZulu-Natal en Gauteng.

Parks Tau, LUR vir ekonomiese ontwikkeling, landbou, omgewingsake en landelike ontwikkeling in Gauteng, het op Vrydag 1 April ’n verklaring uitgereik waarin veeboere gewaarsku word oor die uitbraak van bek-en-klouseer in Gauteng.

Daar is toe reeds besmette diere op plase in Randfontein, Tarlton, Fochville, Wallmansthal en Onderstepoort aangemeld.

Tau het ook ’n dringende versoek aan alle vendusiekrale gerig om ekstra maatreëls te tref tydens veeveilings om die verspreiding van die siekte te voorkom.

Die Pos het met Paul van Vuuren, direkteur van André Kok en Seuns Afslaers in Limpopo gepraat oor die bio-veiligheidsmaatreëls wat by hul veilingskrale gevolg word.

Van Vuuren het verduidelik dat ’n basiese bio-veiligheidstelsel begin by R250 miljoen wat onder meer oorhoofse spuite, asook die spuit van alle voertuie se bande, beestrokke en mense se klere en skoene insluit.

“Omdat die siekte hoogs aansteeklik is, is dit belangrik dat enigiets wat moontlik met die virus in kontak gekom het, deeglik ontsmet word,” het hy gesê.

’n Veearts is deurtentyd in diens van André Kok en Seuns Afslaers se veilingskrale om te verseker dat moontlike besmetting bekamp word.

Van Vuuren is reeds etlike jare betrokke by die bek-en-klouseer-forum wat die bekamping van die siekte ten doel het. Willem van Jaarsveld, voorheen voorsitter van die Limpopo-dieregesondheidsforum en tans voorsitter van die bek-en-klouseer-forum, het verduidelik dat die forum besig is om al die veilingskrale te inspekteer om te verseker dat die vereiste bio-sekuriteitsmaatreels gevolg word.

“Veilingskrale word volgens ̓n puntestelsel gegradeer waar ’n drie-, vier- en vyfster toekenning beteken die kraal voldoen aan die vereistes. Graderings minder as driester beteken die betrokke veilingskraal voldoen nie aan die nodige vereistes nie,” het hy gesê.

Volgens Van Vuuren is ’n veilingskraal net buite Modimolle, op die R33-deurpad na Kranskop, in Maart vanjaar onder kwarantyn geplaas nadat ’n Brahman-stoetveiling gehou is sonder die nodige bio-sekuriteitsmaatreels.

Daar is vasgestel dat 19 beeste glo vanuit ’n rooi sone daarheen vervoer is. Ingevolge die wet op dieresiektes mag gesplete hoefdiere, soos beeste, bokke, skape en varke, nie vanuit ’n siektebestuursgebied (oftewel rooi sone) verskuif word na ’n ander gebied nie.

Diere wat verdagte kliniese simptome toon — onder meer ’n toename in kwyl, blase in die bek of letsels op die hoewe — moet onder geen omstandighede verskuif word nie.

Die rede vir die streng maatreëls langs die Krugerwildtuin is om te keer dat wilde diere, veral buffels wat bekend is as draers van bek-en-klouseer, in aanraking kom met vee.

Van Vuuren het gesê daar is nie voldoende monitering van die rooi sones langs die Krugerwildtuin se grensdraad nie wat beteken opportuniste maak gebruik van die geleentheid om vee onwettig te verskuif.

“Ek was self in die gebied en het gesien hoe die rooi draadheining, wat as waarskuwing dien, heeltemal platgetrap is. Die grens met Zimbabwe is vroeër, waar bek-en-klouseer volop is, deur die plaaslike polisie en weermag gemoniteer, maar nou kan diere vryelik oor die grens beweeg en diere in Suid-Afrika besmet,” het hy gesê.

Hoewel die bek-en-klouseer-virus wat in Suid-Afrika voorkom nie dodelik is nie (slegs 1-3% diere sterf daaraan) is die ekonomiese impak daarvan omvattend.

Volgens die nasionale bemarkingsraad het die 2019-uitbreking in Limpopo die ekonomie R4 miljard gekos waarvan rooivleis-produsente die swaarste getref is.

China het nou reeds ’n verbod geplaas op die invoer van gesplete hoefdiere en hul produkte vanuit Suid-Afrika.

Volgens bronne voer Suid-Afrika jaarliks sowat 80% van sy wolproduksie uit na China wat sowat R4,8 miljard verteenwoordig.

Dus raak hierdie verwikkelinge die groter Suid-Afrikaanse ekonomie, wat steeds sukkel om weer op dreef te kom na die Covid-19-inperkings.

Volgens die bek-en-klouseer-forum is dit slegs moontlik om hierdie siekte te bekamp indien alle belanghebbendes, van veeboere, voerkrale, slagpale tot veilingskrale, nougeset saamwerk en die nodige bio-veiligheidsmaatreëls implementeer.

Related Articles

Back to top button