Local newsNews

Tehuis vir gestremdes gooi hul deure oop

Dit was vir Louis en Elize du Preez van Mookgophong ’n lewensdroom wat waar geword het toe die deure van Heavenly Haven-tehuis vir gestremdes ná baie harde werk en verskeie uitdagings op Saterdag 9 April amptelik geopen is.

Die amptelike opening en knip van die lint is deur Marlene van Staden, burgemeester van die dorp, waargeneem.

Heerlike eetgoed is bedien en een van die inwoners, Calvyn Kruger, het die gaste beïndruk met sy uitvoering van die bekende Onse Vader-lied.

Van Staden het haar gelukwense uitgespreek met die amptelike opening van die nuwe sentrum wat omsien na gestremdes tussen die ouderdomme van 18 en 59. Heavenly Haven is as ’n nie-winsgewende maatskappy geregistreer en het ’n raad van direkteure.

“Dit is ons groot passie om gestremdes en mense wat spesiale aandag nodig het, te versorg,” het Elize gesê.

Die egpaar het self ’n gestremde kind gehad en is deeglik bewus van wat dit verg om so iemand te versorg.

Die redelik vervalle huis is met harde werk en die spreekwoordelike bloed en sweet só ingerig dat dit 17 inwoners kan huisves.

Nadat hulle deeglike navorsing gedoen het om die behoeftes in die dorp te bepaal het die tydsame proses van registrasie begin.

“Ons is dankbaar teenoor elkeen, en veral ons kinders, wat bygedra het om ons tot hier te bring,” het Louis gesê.

Die Du Preez’s is pensioentrekkers van Pretoria en het die huis in 5de Straat sowat tien jaar gelede gekoop.

Louis het al die bou- en breekwerk self behartig en sodanig verander dat dit toeganklik kan wees vir fisiek gestremde inwoners.

Alet Riekert, wat ook verpleegopleiding het, is aangestel as huismoeder en het sommer dadelik ingespring en vrieskaste vol heerlike kos voorberei.

Louis was voorheen ’n fasiliteitsbestuurder by die SA Banknoot-maatskappy en ’n opgeleide elektrisiën en Elize was ’n personeelbestuurder.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button