Local newsNews

Ruk-Naboom-Reg se span rus nooit

Die Ruk-Naboom-Reg-gemeenskapspan in Mookgophong het ’n hele paar projekte in Maart onderneem.

Die ou begraafplaas langs NTK in Eerstestraat se lang gras is gesny, gehark en op groot hope gegooi.

“Hierdie skoonmaakprojek was ’n baie groot taak en ons het sowat drie weke daaraan gewerk. Die arbeidskoste (ander uitgawes uitgesluit) beloop sowat R3 000, maar ten minste kan mense van die dorp en omgewing weer hul geliefdes se grafte besoek,” het Lucas Bornman, voorsitter van die plaaslike AfriForum-tak, gesê.

Die plaveisel in Nelson Mandelarylaan se middelman is ook skoongemaak en die onkruid op die sypaadjie voor die Poskantoor is verwyder.

Die span het ook voor die munisipale kantoor skoongemaak. Die gevaarlike stopstraat op die hoek by 2de Laan en Pierneefstraat is ook netjies skoongemaak sodat motorryers aankomende verkeer kan sien aankom. Verder is talle slaggate met teer opgevul.

“Ons sou dit nie kon doen sonder die 70 sakkies teer wat ’n boumateriaalwinkel geskenk het nie, asook die teer wat deur ’n ander onderneming geskenk is nie,” het Bornman gesê.

Elke gat word skoongevee en dan met die hand voorberei voordat die hegtingsmiddel in die gat gesmeer word. Daarna word die gat met ’n “Cold-mix Tar”-mengsel gevul wat ook ’n aktiveerder in het wat verdere binding teweeg bring. Hierna word die teer goed vasgestamp met ’n stamper.

Ruk-Naboom-Reg wil graag dankie sê aan elke inwoner wat finansieel bygedra het, asook AfriForum Naboomspruit-tak wat hulle finansieel ondersteun.

Hulle is ook dankbaar teenoor Helpende-Hand wat so getrou koue water en koeldrank vir die werkers verskaf het.

Related Articles

Back to top button