Local newsNews

Maak seker alle voertuie is padwaardig voor Paasnaweek

Onpadwaardige voertuie en roekelose bestuurders is van die grootste oorsake van ernstige voertuigongelukke op ons land se paaie.

Motorryers wat die komende Paasnaweek op die pad gaan wees, word ook nou al gemaan om seker te maak dat hul voertuie nagesien word. Paasnaweek begin vanjaar op Donderdag 14 April.

Graeme Alberts van Waterberg Toyota in Bela-Bela het die volgende lys aan Die Pos verskaf om as riglyn te dien vir motorryers voordat hulle in die pad val:

Bande se lugdruk en bandoppervlakte:
Maak seker dat bande die regte banddruk gepomp is. Hy beveel aan dat motorryers die voertuig se handleiding raadpleeg vir die korrekte banddruk van die spaarwiel, aangesien dit dikwels verskil van die bande aan die voertuig. Plaaslike bandehandelaars sal ook met die inligting kan help. Die loopvlak op die bande mag nie minder as 1,6 mm wees nie. Vir veiligheid is dit raadsaam dat die gewone loopvlak op bande tussen 4-6 mm moet wees, afhangende van voertuig en fabrikaat van die bande.

Ligte:
Hoofligte en flikkerligte moet in ’n werkende toestand wees.

Battery:
Sorg dat die battery nagegaan word. ’n Battery het ’n beperkte lewensduur. Laat ’n tegnikus of handelaar die battery versien.

Olie:
As ’n voertuig se olie aanhoudend aangevul moet word, is daar waarskynlik fout, het Alberts gesê. Raadpleeg ’n werktuigkundige om die oorsaak te bepaal. Dit is egter algemeen dat ouer model voertuie van tyd tot tyd met ’n klein bietjie nuwe olie aangevul moet word. Dit is wys om voertuie se olievlak voor ’n langafstandreis by ’n vulstasie te laat nagaan. Olie is noodsaaklik vir die enjin om sonder wrywing te funksioneer.

Windskermveërs:
Gaan die lemme van die windskermveërs na voordat jy vertrek. Die son laat die rubber verhard en kan die werking van die windskermveërs belemmer. Maak die reservoir van die windskermveërs vol. Dit is wys om spesiale windskermvloeistof te koop en by die water in die reservoir te voeg om die windskerm tydens lang reise ordentlik skoon te hou, het Alberts gesê.

Remme:
Dit is baie belangrik om na die werking van die remme om te sien. Enige skuurgeluid of vibrasie op die stuurwiel moet dadelik nagegaan word. Onthou ook om die remvloeistof na te gaan by die vulstasie, het Alberts gesê.

Noodtoerusting:
Voertuie moet toegerus wees met batterykabels, ’n noodhulptas, handskoene, ’n spuitmiddel wat lekplekke in bande kan stop en ’n sleeptou. Die standaardtoerusting wat nodig is, kan in ’n voorafverpakte eenheid van Waterberg Toyota verkry word, het Alberts gesê. Voertuigeienaars moet natuurlik seker maak dat hulle in besit is van ’n driehoekige weerkaatser, ’n domkrag en ’n goeie flits of ligtoestel wat nodig is as die voertuig in die donker onklaar raak.

Gaan ook die lisensieskyfie na en maak seker dat dit op datum is. Geniet die reis en kom veilig tuis!

Related Articles

Back to top button