Local newsNews

Bekende staalman sterf op R101-pad

Zieg Trollip (48), ’n bekende in die plaaslike staalbedryf, is op Sondag 3 April op die R101-pad net buite Bela-Bela in ’n voertuigongeluk oorlede.

Trollip het vir meer as 10 jaar as bestuurder by die Du Pree Staal-onderneming in Van der Merwestraat gewerk.

Volgens kol. Abel Phetla, Bela-Bela-polisiestasiebevelvoerder, het die ongeluk om 03:00 die oggend tussen die Swift- en Bosveld Diesel-vulstasie plaasgevind.

’n Trok het volgens die polisie se inligting op die R101-pad ingedraai toe Trollip in sy Isuzu-bakkie in hom vasgery het. Daar was geen passasiers by Trollip in die voertuig nie.

Zieg Trollip (48), bekende in die staalbedryf van Bela-Bela, is op Sondag 3 April in ’n ongeluk op die R101-pad oorlede.

Nooddienstepersoneel het Trollip op die toneel dood verklaar. Sy bakkie was baie erg beskadig, het Phetla gesê. Die polisie ondersoek ’n saak van strafbare manslag.

Phetla het gesê die polisie is baie bekommerd oor die groot aantal ongelukke wat op hierdie gedeelte van die pad voorkom. Die swak sigbaarheid en vragmotors wat nie oor die nodige weerkaatsers beskik nie, dra by tot die toenemende aantal ongelukke, het hy gesê.

Mike Wannenburg, eienaar van Du Pree Staal, het by navraag gesê Trollip het ’n belangrike rol gespeel in die vestiging van die onderneming.

“Hy was ’n geliefde man vir sy vriende en familie en het baie maklik vriende met kliënte gemaak. Ons sal hom onthou as ’n bekwame, pligsgetroue en eerlike man. Sy dood het ’n enorme leemte in ons almal se lewens gelaat.”

Trollip se begrafnis vind op Maandag 11 April vanuit die AGS-gemeente in die dorp plaas.

Hy laat sy pa, Erwin, asook sy suster, Natasha Nel, agter.

Related Articles

Back to top button