Local newsNews

Ons Winkel open in Mookgophong

Solidariteit Helpende Hand het op Vrydag 1 April een van sy gewilde welsynswinkels, bekend as Ons Winkel, in Mookgophong met ’n lintknipseremonie geopen.

Daar is tans bykans 100 van hierdie winkels landwyd. Joyce Kritzinger is die eienaar van die pragtige winkel wat geleë is langs Spar in die dorp.

Sy het aan Die Pos gesê sy sien baie daarna uit om haar passie vir mense en gemeenskapsprojekte op hierdie manier uit te leef. Sy is ’n bekende gesig in die dorp en ’n enkelma van ’n eenjarige seuntjie wat in haar sorg geplaas is.

Dié Ons Winkel lyk egter nie soos die tipiese tweedehandse winkel nie, maar eerder soos ’n boetiekwinkel.

Die gemeenskap het ruim bygedra en daar is interessante en bekostigbare tweedehandse goedere, speelgoed en oudhede vir almal se smaak en sak te koop.

Die uitleg van die winkel is uniek en baie smaakvol. Die geld van die verkope word vir ’n goeie doel aangewend.

“Daar sou niks gewees het om te koop, as iemand dit nie geskenk het nie. Ons moedig daarom inwoners aan om enigiets wat by hul huise in die pad staan, te skenk. Op dié manier kan ’n mens van oorbodige huisware ontslae raak en weet dit word vir ’n goeie doel aangewend,” het Kritzinger gesê.

Enige meubels, oudhede, kombuisware, beddegoed, gordyne, speelgoed, klere, skoene, sporttoerusting of tegnologiese ware kan geskenk word.

“Ons Winkel neem hierdie goedere en omskep dit in geld wat, onder meer, vir Helpende Hand se studiefonds benut word. Die studiefonds bied rentevrye studielenings aan studente wat kwalifiseer om verder te gaan studeer, maar nie die nodige geld het om dit te doen nie. Die opbrengs word ook aangewend vir verskeie ander projekte van Helpende Hand wat poog om armoede in Afrikaanssprekende gemeenskappe te verlig en te voorkom. Ons Winkel dien ook as werkskepping vir die kontrakteurs wat die winkel bedryf en vir personeel wat in die winkels werk,” het Marianthi Botha, streekorganiseerder van Limpopo en Noordwes, gesê.

Kritzinger het haar dankbaarheid uitgespreek teenoor elkeen wat gehelp het om die winkel tot stand te bring.

“Ek het nou die geleentheid om voltyds te doen waarvoor ek lief is en ek kan my hart en siel uitleef. Die dorp en sy mense kan net baat hierby,” het sy gesê.

Vir meer inligting, bel vir Kritzinger by tel. 076 900 9989.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button