Local newsNews

Watervoorsiening bly ’n groot uitdaging in Mookgophong

Inwoners van Mookgophong is al geruime tyd moeg gesukkel met die munisipaliteit se watervoorsiening.

Wanneer daar beurtkrag is, kry sekere gedeeltes van die dorp geen water nie en tans is net ses van die 21 pompe in die Nylrivier in ’n werkende toestand.

Volgens Marita Louw, Vryheidsfront-Plus-wyksraadslid, het die VF-Plus ʼn dringende vergadering met die tegniese afdeling van die munisipaliteit aangevra om ’n volhoubare oplossing vir die waterprobleem te vind.

“Die korttermynplanne moet nou in werking gestel word om water, wat ’n basiese mensereg is, aan inwoners te verskaf totdat die probleme met verouderde en vervalle infrastruktuur op die langtermyn aangespreek kan word,” het Louw gesê.

Die onmiddellike stappe sluit in dat groot druk op die tegniese afdeling geplaas sal word om voorkeur te gee aan die herstel van waterlekkasies en gebarste pype wat plekke vir dae aaneen sonder water laat.

Watertenkwaens moet ook ontplooi word na dié plekke en ’n behoorlike rooster moet opgestel word sodat inwoners kan weet waar en wanneer daar ’n tenkwa in hul omgewing is.

Die 30 kW-pomp by die Welgevondendam (Frikkie Geyserdam) wat water aan die dorp voorsien, is al ’n geruime tyd buite werking.

Goedkeuring is verkry om dié stukkende pomp met ’n groter kapasiteit pomp te vervang. Dit sal na verwagting in die komende week geïnstalleer word.

Daar is tans ’n 15kW-pomp by die dam wat nie genoeg water kan pomp om aan die behoefte te voorsien nie. Dié pomp sal binnekort met ’n groter pomp vervang word. Die gemeenskap sal voortdurend op hoogte gehou word van die vordering daarvan.

Om die probleem die hoof te bied, het die Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit in sy onlangse aansuiweringsbegroting ’n bedrag van R5 miljoen begroot vir die sink van boorgate, die opgradering van die Nyl-waterpompstasie en -reservoir. Die projek word vir einde van Junie 2022 beplan.

Daar is ook voorsiening gemaak vir die installering van bystandkragopwekkers.

Die munisipaliteit het verder aansoek gedoen vir ’n finansiële toekenning vir die opgradering van boorgate, reservoirs en die koop van kragopwekkers.

’n Groot bydraende faktor vir die waterprobleme wat die dorp beleef, is kabeldiefstal en die beskadiging van bestaande waterinfrastruktuur. Dit blyk dat kabeldiewe die geleentheid tydens beurtkrag gebruik om kabels te steel.

Dringende aandag moet gegee word aan die veiligheid by wateraansuiweringsaanlegte, reservoirs en boorgate om hierdie soort misdaad te verhoed en om krag- en waterinfrastruktuur te beveilig.

Louw het ook gesê die VF-Plus sal toesien dat daar meer begroot word in die 2022/23-begroting vir die vervanging van verouderde waterinfrastruktuur, soos toevoerpype, om te voorkom dat water verlore gaan met die verouderde waterpype wat bars en gesuiwerde water dan wegloop.

Volgens Hercules Louw, bestuurder van die Naboom Tuiste vir Bejaardes in die dorp, was die tehuis die afgelope maand vir 23 dae sonder water. H

y het op ’n sosiale mediagroep gesê indien hulle nie self voorsiening gemaak het nie, sou dit katastrofies gewees het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button