Local newsNews

VLU-vroue leer die fyner kuns van skryfwerk

Die vroue van die Vroue Landbou-unie (VLU) se Naboomspruit-tak het die geleentheid gehad om meer te leer van skryfkuns toe hulle op Donderdag 17 Maart ’n werkwinkel van die bekroonde skrywer Keina Swart bygewoon het.

Die vroue het behoorlik aan haar lippe gehang toe sy hulle die geheime van dié besondere kunsvorm vertel het. Swart het al verskeie boeke die lig laat sien en een van haar kinderboeke is in 2011 met ’n ATKV Veertjie -toekenning as beste kinderboek bekroon.

Sy het ook ’n jeugboek geskryf wat as voorgeskrewe boek in skole gebruik word en twee rubriekbundels het ook die lig gesien.

Swart het lede vasgevang met haar vertellings oor haar lewensreis as joernalis met sake van humor, opwinding, vrees en intense hartseer.

Op die foto is die Vroue Landbou-unie (VLU) Naboomspruit-tak wat op Donderdag 17 Maart ’n werkwinkel bygewoon wat deur Keina Swart, bekroonde skrywer, aangebied is. Die vroue het geleer hoe om ’n skryfstuk aan te pak en daarna gesellig saam gekuier.

Die VLU-vroue moet vanjaar ’n kortverhaal skryf met die tema “My troudag” en Swart het hulle idees gegee hoe om die taak aan te pak.

“Dit was voorwaar ’n heerlike oggend en het my sommer geïnspireer om te lees en te skryf,” het een van die lede aan Die Pos gesê.

Twee lede van die Olien-aandtak van Modimolle, die voorsitter en skakelbeampte, het ook die oggend bygewoon.

Corietha Müller het die geleentheid gereël en die vroue het heerlik gekuier oor ’n koppie tee en ’n stukkie koek.

Die Naboomspruit-tak is bedrywig en op Dinsdag 8 Maart het hulle ook na ’n jong, dinamiese entrepreneur, Bertus Steenkamp, geluister.

Steenkamp lewer praatjies oor entrepreneurskap en is deel van die Afrineurs wat ander inspireer en leiding gee hoe om jou drome uit te leef en ’n onderneming op die been te bring.

Daar was ook besoekers wat die insiggewende praatjie bygewoon het.

Related Articles

Back to top button