Local newsNews

Twee voertuie afgeskryf ná ongeluk op N1

Die motorbotsing op die N1-snelweg (noord) tussen Modimolle en Bela-Bela waarin ’n gryskleurige Hyundai H1-bussie en ’n wit Ford Ranger-dubbelkajuitbakkie betrokke was, het op Vrydag 18 Maart tot groot verkeersopeenhopings in albei rigtings gelei.

Die ongeluk het omstreeks 13:00 net verby die R516-afrit na Settlers/ Bela-Bela in die rigting van Kranskop gebeur.

Volgens ooggetuies was die snelweg druk besig met die aanvang van die langnaweek en skoolvakansie. Daar was glo heelwat swaarvoertuie wat stadig in die linkerbaan beweeg het.

Die bestuurder van die Hyundai, Jack Kwena Kaphala (60) wat in Tembisa woon, het glo aan ooggetuies vertel dat hy nie die Ford-bakkie gesien het wat besig was om hom verby te steek nie.

Groenewoud, bestuurder van die Ford Ranger, is behandel vir beserings, maar reeds ontslaan.

Die twee voertuie het teen ’n hoë snelheid kontak gemaak waarna die bestuurder van die Hyundai beheer oor die voertuig verloor het. Dit het reg voor die bakkie ingeswenk en teen die helling van die middelman op die bestuurderskant omgeslaan.

Die voertuig het oor die middelman en teerpad geskuur en eers in die noodbaan van die N1-suid, reg voor aankomende verkeer, tot stilstand gekom.

Gelukkig is geen ander voertuie getref nie.

Die insittendes van die gryskleurige Hyundai-bussie wat tydens ’n ongeluk met ’n ander voertuig op Vrydag 18 Maart omgeslaan het en oor die N1-snelweg geskuur het, het slegs geringe beserings opgedoen.

Jan Hendrik (Hein) Groenewoud (43), ’n gebore Nylie en bestuurder van die Ford Ranger-bakkie, het aan Die Pos vertel dat hy besig was om die Hyundai-bussie verby te steek toe hy skielik weerstand teen sy bakkie gevoel het.

Volgens Groenewoud het dit gevoel asof die Hyundai-bussie teen sy bakkie se passasierskant druk wat sy voertuig na die middelman gedwing het.

“Ek het met alle mag die stuurwiel probeer reguit hou sodat my bakkie op die padoppervlakte moet bly, maar toe die bussie skielik regs voor my bakkie inswenk, het ek beheer verloor,” het hy gesê.

Die bakkie het gerol en uiteindelik in die middelman op sy dak beland. Groenewoud vertel dat hy homself enkele oomblikke ná die ongeluk kon bevry van die veiligheidsgordel en deur die gebreekte venster na buite kon klouter.

Nooddienste was gou op die toneel en het Groenewoud se bloeiende kopwond verbind en ook sy hande en arms wat heelwat skraapwonde opgedoen het.

Sy nek en skouers is ook beseer toe die bakkie gerol het. Hy vertel dat die noodpersoneel verbaas was dat hy nie ernstiger beserings opgedoen het nie.

“Ek glo die skaaptralies agterop my bakkie het my lewe gered, want dit het die impak op die kajuit verminder en gekeer dat die kajuit nie heeltemal platgedruk is nie,” het hy vertel.

Hy is per ambulans na die Phodi-Clinic in Bela-Bela geneem, maar later dieselfde dag ontslaan.

Volgens nooddienspersoneel was die bestuurder van die ander voertuig by sy volle bewussyn en het hy self sy versekeringsmaatskappy in kennis gestel van die ongeluk. Hy is per ambulans na die staatshospitaal in Bela-Bela geneem vir behandeling van wonde aan sy regterarm en kort daarna weer ontslaan.

Die ses passasiers, twee volwassenes en vier kinders, het slegs geringe beserings opgedoen.

Volgens die woordvoerder van die Limpopo-verkeerskommunikasiegroep het verkeer op die N1-snelweg drasties toegeneem op Vrydag 18 Maart soos vakansiegangers na hul bestemmings vertrek het.

Die N1-verkeersverslag wat teen 14:00 vrygestel is het aangedui dat 2 198 voertuie per uur deur die Pumulani-tolhek in ’n noordelike rigting beweeg het teenoor 1 174 voertuie in ’n suidelike rigting.

Daar is ook 1 911 voertuie deur die Carousel-tolhek op pad noorde toe teenoor 793 voertuie in suidelike rigting gemeet.

Die verkeer was teen 18:00 Vrydag nog steeds baie druk, maar geen verdere ongelukke is tussen Bela-Bela en Polokwane aangemeld nie.

Related Articles

Back to top button