Local newsNews

Myn het oog op Rooiberg-omgewing

Grondeienaars en belanghebbendes in die Rooiberg-omgewing tussen Bela-Bela en Thabazimbi moet kennis neem van beoogde mynaktiwiteite in hul omgewing.

’n Kennisgewing is op Vrydag 11 Maart in Die Pos geplaas waar die betrokke maatskappye hul voorneme om in die gebied vir koper te prospekteer uitgelig is.

Copper Corp (Pty.) Ltd. is van voorneme om vir koper te prospekteer met Geovicon Environmental (Pty.) Ltd. wat die basiese assesersingsverslag sal hanteer en ook by die omgewingsbestuursprogram van die projek betrokke sal wees.

Die Pos het bykomende inligting by dié maatskappye aangevra. Die grondgebied waar die projek beoog word, sluit in Kwaggafontein 546 KQ, Sekelbos 646 KQ, ’n gedeelte van die plaas Morgenzon 533 KQ, asook die oorblywende gedeelte van die plaas Kwaggafontein 520 KQ.

Die projek sal oor ’n tydperk van vyf jaar plaasvind, het Die Pos verneem.

Die prospekteringsgebied is ongeveer 42 km vanaf Bela-Bela, 10 km vanaf Rooiberg en 50 km vanaf Thabazimbi geleë. Die toegangsroete tot die gebied is vanaf die R516-pad, luidens ’n verslag wat aan die koerant beskikbaar gestel is.

Die gebruik van water vir die boorproses en vir sanitasie sal by gewillige grondeienaars of by die plaaslike munisipaliteite bekom word, lui die verslag.

Afvalwater sal weggevoer word en rehabilitasie is deel van die beplanning.

Die lys van voordele wat in die verslag gelys word — indien die minerale ontdek word — sluit in werkskepping en geleenthede vir plaaslike diensverskaffers.

Die betrokke grondeienaars sal ook vergoed word. Die verslag dui ook aan dat werkskepping misdaad in die omgewing sal verminder.

Geovicon het intussen ingevolge die nasionale omgewingsbestuursraamwerk ’n aansoek gebring om met die werksaamhede te begin. ’n Openbare deelnameproses is reeds van stapel gestuur. Benewens die betrokke grondeienaars, munisipaliteite en departemente, is die raadslede van wyk 4 van Thabazimbi, asook wyk 9 van Bela-Bela, as belanghebbendes gelys.

Van die redes hiervoor is dat hierdie twee dorpswyke die naaste aan die beoogde prospekteringsgebied is.

Die verslag dui aan dat die ondersoekspan geen teken kon vind van spesies van die plant- of diereryk wat bedreigde status in dié natuurlike habitat geniet nie.

Die betrokke prospekteringsgebied beskik oor ’n ryk biodiversiteit, met verskeie voël- spesies, soogdiere, reptiele, paddaspesies en motspesies wat in die omgewing aangetref word. Dit is daarom dat dit in die verslag genoem word dat die natuurlike gebied ongestoord gelaat sal word tydens die prospekteer tydperk.

Geen oornaggeriewe sal vir die prospekteerders op die perseel geskep word nie.

Belanghebbendes of mense wat direk deur die projek geraak word, het tyd tot op Maandag 11 April om insette te lewer oor die beoogde aktiwiteite.

Navrae kan gerig word aan Riana Bate by tel. (013) 243 0542 of per e-pos aan geovicon@iafrica.com of tel. 082 359 5604. Insette moet op skrif wees. Die verwysing van die projek is LP 30/5/1/1/2/14171 PR.

Related Articles

Back to top button