Local newsNews

Leerder sluit by Magrietjies-hulpgroep aan

Zandri Tolmay (18), ’n leerder van Hoërskool Hans Strijdom in Mookgophong, het onlangs besluit om by die Magrietjies-kankerhulpgroep van die dorp aan te sluit.

Dit is die eerste keer dat ’n meisie van haar ouderdom by dié vrywillige groep betrokke raak.

“Ek het besluit om by die Magrietjies aan te sluit omdat ek al te doen gehad het met kanker. My ouma het in 2015 die stryd teen kanker gewonne gegee. Ek wil graag in verpleegkunde studeer,” het sy aan Die Pos gesê.

Sy wil ander mense help in hul kankerstryd en wil ’n verskil in hul lewens maak. Haar begeerte is om ondersteuning te bied aan die mense wat dit nodig het, selfs as hulle net ’n skouer nodig het om op te huil.

Sy glo en vertrou dat die Here haar sal help om haar drome te bewaarheid sodat sy haar deel kan doen om van die wêreld ’n beter plek te maak.

“Ons is baie opgewonde oor Zandri se lidmaatskap. Die Magrietjies het jongmense nodig. Ons hoop regtig nog jongmense sal aansluit. Met twee groot fondsinsamelingsprojekte wat beplan word, sal dit goed wees om haar as skakelpersoon by die hoërskool te hê,” het Elarda Wonderchem, nuutverkose voorsitter van die Magrietjies, gesê.

“Daar staan in Lukas 10:27: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself. Ek probeer om elke dag volgens hierdie vers te leef,” het Zandri haar lewensuitkyk beskryf.

Sy het haar ouers as haar rolmodelle voorgehou.

“Goeie ouers stel die voorbeeld van hoe ons moet leef. As ek na hulle kyk, sien ek mense wat alles met oorgawe doen; mense met goeie harte en dit inspireer my om elke dag beter te wees as gister,” het sy gesê.

Wonderchem het gesê die Magrietjies se projekte vir 2022 is nodig om hul koffers te verstewig.

Ina Bonnette (slagoffer van die Modimolle-monster) is op Saterdag 28 Mei hul gasspreker met die onderwerp: Genade en genesing.

Hykie Berg, bekende akteur en tans te sien as dr. Conrad Bester in Binnelanders is op Saterdag 29 Oktober die gasspreker. Hy sal praat oor verslawing.

“Die pandemie het die Magrietjies in baie opsigte geraak. Die Magrietjies het staande gebly al was daar inperkings en minder geldelike bydraes. Dit het ons opnuut laat besef wat in die vroue van ons dorp en ons land steek. Ons is opreg dankbaar teenoor elkeen wat die Magrietjies op soveel terreine steun en ondersteun,” het sy gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button