Local newsNews

Inwoners reik hand na munisipaliteit uit

Antionette Wagener, DA-raadslid en inwoner van die Gholfpark-aftreeoord buite Mookgophong, het tydens ’n besoek aan die beplanningskantoor by die Mookgophong-munisipaliteit uitgevind personeel is oorlaai met werk en dat die liassering van bouplanne al geruime tyd agterweë gebly het.

“Ek het besef dat dit vir hulle fisiek onmoontlik is om met die huidige menslike hulpbronne alles weer op datum te kry. Ek het daarom die munisipale bestuurder genader en gevra of hy en die personeel hulp van buite sal aanvaar. Hulle het die hulp met geesdrif aanvaar en toestemming gegee dat die groep Vriende van Mookgophong-munisipaliteit kan kom help,” het sy aan Die Pos gesê.

’n Paar oproepe later het 15 vroue hulself gewillig verklaar om met die groot taak te help.

Hulle het op Dinsdag 8 Maart opgedaag en Operasie Skoonmaak begin organiseer.

Die beplanningskantoor by die Mookgophong-munisipaliteit was in ’n chaotiese toestand voordat die “Vriende van Mookgophong-munisipaliteit”, onder leiding van Antoinette Wagener, begin het om die kantoor reg te ruk.

Hulle het aan die werk gespring en was tevrede dat hulle die lêers wat in verskeie kantore in die gebou was, kon opspoor en na die beplanningskantoor kon bring.

“Daar was heelwat soektogte op die eerste dag en die vroue het geswoeg en gesweet om die lêers terug te besorg,” het Wagener vertel.

Daarna het die groot liassering begin. Wagener het die hulp van Alta van Aswegen ingeroep om leiding te neem met die liassering.

Die uitreikregister van die planne is opgedateer en ’n meesterkopie is opgestel wat nou in werking tree. ’n Nuwe vereenvoudigde stelsel en reëls is daargestel wat volgens haar uitstekend werk. Die personeellede wat met die planne werk, Luca Molobi en Frans Kutumela, is ook op hoogte gebring van hoe die nuwe stelsel werk.

Hulle was baie verlig en dankbaar vir die hulp en is baie trots op die netjiese en doeltreffende kantoor en stelsel wat hulle voortaan in staat sal stel om hul tyd meer produktief aan te wend.

Inwoners sal nou met gemak vir hul huisplanne kan aansoek doen by die beplanningskantoor waarop hulle die uitreikregister sal voltooi. Die planne kan dan geneem word vir kopieë waarvoor die inwoner self betaal.

Antoinette Wagener, DA-raadslid en organiseerder van die projek, saam met Alta van Aswegen wat gehelp het om die beplanningskantoor te orden.

Deur hierdie register te onderteken, is die inwoner verantwoordelik vir die bewaring van die bouplanne en onderneem om dit voor 15:30 op dieselfde dag onbeskadig terug te besorg.

Die inwoner sal aanspreeklik gehou word vir planne wat verlore of beskadig word.

“Die vroue wat vrywillig en baie hard gewerk het onder die vaandel van Vriende van Mookgophong-munisipaliteit word hartlik bedank vir hulle groot bydrae om die projek suksesvol te voltooi. Ons hoop om eersdaags die volgende projek aan te pak,” het Wagener gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button