Local newsNews

Inwoner sterf ná kort siekbed

Een van Mookgophong se bekendste inwoners, dr. Piet Prinsloo (76), is ná ’n kort siekbed aan kanker oorlede.

Prinsloo was bekend vir sy pragtige blomtuine en was ook baie aktief in rolbalkringe.

“My pa is ’n maand gelede met sarkoomkanker gediagnoseer en hy is op Sondag 13 Maart oorlede,” het Daleen Brooks, sy oudste dogter wat saam met hom geboer het, gesê.

Die familie het op Woensdag 16 Maart ’n klein gedenkdiens in die skaapstoor op die plaas gehou.

Sy wens was dat net sy familie en werkers die gedenkdiens bywoon en hy wou nie ’n formele begrafnis gehad het nie. Ds. Louis Pretorius van die NG-kerk in die dorp en ds. Johannes Monkoe het elk ’n kort boodskap gelewer.

“My pa het baie jare gelede met Monkoe gereël om een maal per maand vir die werkers ’n diens op die plaas te hou. Hy was werklik ’n wonderlike man,” het Brooks gesê.

Prinsloo en sy vrou, Lydia, het sedert 1996 op die plaas Haakdoringkuil buite Mookgophong gewoon. Hy was ’n bekende boer van die omgewing en het ’n liefde vir blomme en veral clivias en amarilla-plante gehad.

Hy het op ’n klein plasie in die Kameeldrift Oos-omgewing buite Pretoria grootgeword en aan Hoërskool FH Odendaal gematrikuleer.

Hy het sy weermagopleiding voltooi en daarna medies aan die Universiteit van Pretoria gestudeer en later in patologie gespesialiseer. Hy was ook professor aan dieselfde universiteit.

Prinsloo het in 1983 in vennootskap met vyf ander dokters die bekende patologiepraktyk, Du Buisson en vennote, gestig.

Toe hy in 1996 sy 50ste verjaardag gevier het, het hy die praktyk gegroet en saam met sy gesin na die Mookgophong-omgewing verhuis waar hy sy aandag op die verbouing van pekanneute en sitrusvrugte toegespits het.

Hy was ook ’n bekende beesboer van die omgewing.

Hy word oorleef deur sy vrou, Lydia, twee dogters en vier kleinkinders.

Related Articles

Back to top button