Local newsNews

Bela-Bela groet AB en Millie de Villiers

Die bekende en geliefde dr. AB de Villiers en sy vrou, Millie, gaan Bela-Bela ná bykans 40 jaar vir die Wes-Kaap verruil.

Die egpaar het destyds van Klerksdorp na Bela-Bela verhuis met hul twee klein seuntjies, Jan en Wessels.

AB het ná sy dienspligjare in die Klerksdorp-hospitaal as mediese beampte gewerk. Die egpare se derde seun, AB (jnr.), bekende oud-Protea-krieketspeler is in 1984 in Bela-Bela gebore.

AB snr. het in 1982 as mediese praktisyn in die dorp begin werk en was in vennootskap met drs. Ludi Pretorius, Koos van Rensburg, James Petzer, Boet de Villiers (nie familie), James van Zyl en tot op hede Gerhard Grobler.

Hy het aan Die Pos vertel een van die mylpale in sy lewe was toe ’n pasiënt ’n hartaanval gehad het en hy daarin kon slaag om die man te stabiliseer en hom daarna vir nog 15 jaar as pasiënt behandel.

Millie vertel dat die pasiënt uit dankbaarheid elke jaar vir AB ’n koek gebring het om sy lewe te vier.

“Dit is vir my baie spesiaal om te onthou hoeveel babas ek in die lewe help bring het. Daardie babas het grootgeword en van hulle is steeds pasiënte wat ek bygestaan het in hul eie swangerskappe. Dit is ’n voorreg om so lank in ’n relatief klein dorpie te kon praktiseer,” het AB vertel.

“Ek het my werk baie geniet. Die hospitale waar ons oor die jare gewerk het, het altyd hul beste gelewer, maar dit is die mense van Bela-Bela wat ek in my hart sal saamdra. Ons het kosbare vriendskappe hier gesmee.”

Dit is alombekend dat sport nog steeds ’n belangrike faktor in die De Villiers’e se lewens is.

Die egpaar het tussen hul seuns se besige sportprogramme ook tyd gekry om self baie goeie tennis en gholf te speel. Hulle het ook drie keer saam die Comrades-marathon voltooi.

AB dink met nostalgie terug aan sy studentejare toe hy vir die Universiteit van Pretoria se rugbyspan in 52 onoorwonne wedstryde gespeel het.

“Warmbad-sportklub, spesifiek die gholf en tennis, het ’n groot deel van ons gesin se lewens uitgemaak. Die sportklub was bekend as The Club at the end of the road, ’n bekende lied van Elton John. Vrydagaande was dit die bymekaarkomplek van al die sportliefhebbers, jongmense en vriende. Ek was ook op die tenniskomitee en later voorsitter. Ons tennisspan was van die sterkste in die provinsie,” het Millie gesê.

Millie het haar tyd as ma van drie kranige sportmanne gewy aan afrigting, om hul betyds by al hul aktiwiteite te besorg en te sorg dat die huishouding met vier sportmal-huismense glad verloop.

Sy was ook ’n suksesvolle eiendomsagent op die dorp en moes met tye uithelp by die praktyk. Millie het gesê hoewel die drie seuns al drie gevestigde sakemanne is, help sy nog steeds waar sy kan. Sy is nou betrokke by AB (jnr.) se gastehuis, RAS, in Pretoria.

Die egpaar was nog altyd mal oor die Wes-Kaap en het besluit om middel April na Wildernis te verhuis.

Dr. Nicola Havemann sal van einde April in AB se plek praktiseer.

“Die praktyk sal soos normaal aangaan. Ek sê dankie aan die pasiënte vir hul lojaliteit deur die jare en my kollegas vir hul ondersteuning en vriendskap,” het AB gesê.

Vir Millie is dit swaar om kosbare vriende agter te laat. Sy sê hulle gesin was baie betrokke by hul kerkfamilies. AB was eers diaken en later ouderling en hulle was betrokke by albei die NG-gemeentes in die dorp. Ons kinders het hul Christelike fondasie, wat hulle nou nog uitleef, hier gekry.

“Ons het vanuit ons huis in Mentzlaan ons bouprojek op Kia Ora voltooi en in 2007 ons intrek op dié pragtige Bosveldplasie geneem. Dit was elke dag vir ons spesiaal en het gevoel of ons in ’n lodge woon.”

Die De Villiers’e bedank Bela-Bela-inwoners vir hul ondersteuning en omgee deur die jare.

Related Articles

Back to top button