Local newsNews

Kerkstraat in Modimolle se slaggate uiteindelik herstel

Kerkstraat, een van die besigste en langste strate in Modimolle, het vir inwoners die afgelope ruk ’n groot kopseer geword.

Die straat loop parallel met die dorp se hoofstraat (die R33-deurpad) van die Braksloot, verby Eenheid Primary School, die polisiestasie, die plaaslike munisipaliteit, die Waterberg-distriksmunisipaliteit en talle sakeondernemings.

Kerkstraat kruis met Thabo Mbekistraat (die R101-deurpad tussen Modimolle en Bela-Bela) by die kenmerkende “witkerk” (NG Kerk Waterberg) en gaan verder verby Die Pos-koerant, Kranskop Dierekliniek, Susan Strijdomskool, die Nylstroom-rolbalklub en -tennisbane tot waar dit by die hoofingang van die Koro Creek-gholflandgoed doodloop.

Met die swaar reën van die afgelope twee jaar, asook die gebrek aan deurlopende instandhouding van die ongeveer 3,5 km pad, het tientalle slaggate ontstaan.

Inwoners en sakelui wat hierdie pad daagliks gebruik moes naderhand kruis en dwars oor die pad ry om slaggate te probeer vermy.

Dit het Harry Oberholzer, jarelange eienaar van Build It Nylstroom oorgehaal om iets daadwerkliks aan die probleem te doen. Hy en sy span werkers het op Sondag 6 Maart binne vyf ure die bykans 250 slaggate in Kerkstraat herstel.

Daar is gebruik gemaak van ’n koue teermengsel teen ’n koste van R130 per 25 kg sak. Die span het 200 sakke teermengsel, wat deur Build It Nylstroom en Koro Creek-gholflandgoed geskenk is, gebruik.

Die Adopt-a-Pothole-projek in Modimolle het ook ses sakke vir hierdie straat se opgradering geskenk.

Wilco Bothma en Fred Jonker van Universal Blending het aan Die Pos verduidelik hoe die produk, wat deur Roadsaver in Suid-Afrika vervaardig word, werk.

“Die grootste voordeel van hierdie produk is dat dit maklik en vinnig is om te gebruik en selfs in reënweer aangewend kan word. Enigiemand kan ’n slaggat herstel met net ’n besem, hark en ’n handstamper. Dit is nie nodig om masjinerie soos rollers of kompakteerders te huur nie. Hierdie koue teermengsel het ’n oliebasis, wat beteken dit kan net so in die slaggat gegooi word, waarna dit gelyk gehark word en met ’n handstamper vasgestamp word,” het hulle gesê.

Oberholzer het voorts onderneem om Kerkstraat “aan te neem” en toe te sien dat die padoppervlak in ’n goeie toestand bly deur gereeld nuwe slaggate te herstel.

Hierdie Adopt-a-street-aanslag is ’n nuwe inisiatief van Adopt-a-Pothole om sodoende sakelui betrokke te maak.

Daar word ook gevra dat inwoners in hul eie strate bymekaarkom om hul strate se slaggate te herstel en sypaadjies netjies te hou.

Sarie van den Berg van Adopt-a-Pothole het aan Die Pos vertel die plaaslike munisipaliteit ondersteun hierdie inisiatief en het ingewillig dat sakelui ’n gratis advertensiebord mag oprig by dié straat wat hulle “aanneem”.

Die advertensieborde moet steeds voldoen aan die owerhede se voorwaardes en toestemming moet by die munisipaliteit se kommunikasie-afdeling daarvoor verkry word.

Kontak hulle gerus vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button