Local newsNews

#HelpHetta-projek verskaf hulp aan meisies

Solidariteit Helpende Hand se Northam/Thabazimbi-tak het as deel van die landwye #HelpHetta-projek ’n draai by Hoërskool Frikkie Meyer gemaak om broodnodige hulp te verleen aan die minderbevoorregte leerders van die skool.

Die #HelpHetta-projek, wat deel uitmaak van Helpende Hand se landwye maatskaplike projekte, het in 2015 ontstaan toe dié organisasie die nood vir sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte onder Suid-Afrika se minderbevoorregte jeug raak gesien het.

Dit is nie altyd maklik om nood raak te sien nie, maar wanneer ’n mens ag slaan en dieper kyk, besef jy hoeveel nood daar werklik is.

“Hetta is ’n doodnormale 13-jarige meisie. Sy sit langs jou dogter in die gr. 8-lewensoriënteringklas en speel in die o.14-hokkiespan. Soms bly Hetta ’n week weg van die skool, sonder enige verduideliking, maar die waarheid is dat Hetta en haar ouers nie sanitêre ware kan bekostig nie.”

Dít is die beeld wat die organiseerders van die #HelpHetta-projek skets en die hartseer waarheid is dat daar ook in ons eie gemeenskappe talle “Hettas” is wat hulp nodig het.

Statistieke toon dat sowat 13% van die land se skoolmeisies nie sanitêre ware kan bekostig nie, wat beteken dat duisende skoolgaande meisies se lewens elke maand vir tot vyf dae tot stilstand gedwing word.

Hoërskool Frikkie Meyer is een van 52 skole wat jaarliks deur dié projek bygestaan word en volgens die skool se berader, Talitha van Wyk, is die skool dankbaar vir organisasies soos Helpende Hand wat leerders ondersteun om hul volle potensiaal te bereik.

“Daar is so baie leerders in ons gemeenskap wat by hierdie projek baatvind en daarom is ons skool ongelooflik dankbaar vir die getroue en onbaatsugtige hulp wat Helpende Hand al jare lank aan ons leerders verleen,” het sy verduidelik.

Vir meer inligting oor die #HelpHetta-projek en hoe om betrokke te raak, besoek www.helphetta.co.za(.)

Related Articles

Back to top button