Local newsNews

Veteraantrekkers gaan weer brul op die Springbokvlakte

Die gewilde veteraantrekker en -enjin opedag word weer op Saterdag 9 April by die Settlers Agri-museum gehou.

Die opedag is die laaste keer in 2020 gehou net voordat die Covid-19-grendeltyd ingestel is.

Die museum is in 2010 opgerig deur ’n groep trekkergeesdriftiges wat ’n passie vir enjins uit toeka se dae het en dit vir die nageslag wil bewaar.

Dié groep afgetrede kundiges span elke Woensdag hul kragte saam om ’n groot verskeidenheid veteraantrekkers en -enjins op te bou. Daar word heeldag in die werkswinkel langs die museum gewerskaf.

Daar is tans 30 veteraantrekkers en omtrent 30 enjins in die museum wat tot hul oorspronklike, brullende, toestand herstel is.

Die Pos het met Gerrit Fourie gesels oor die museum en opedag wat om die draai is.

Hy vertel: “Daar is tans ses mans waaronder eertydse boere, ’n ingenieur en vlieënier wat voltyds betrokke is. Ons is almal 70 jaar en ouer, maar ek glo hierdie stokperdjie hou ons jonk. Daar is oor die jare hegte vriendskappe gesmee terwyl ons baie by mekaar geleer het oor enjins en trekkers,” vertel hy.

“Die geluid van ’n brullende trekkerenjin laat my hart bokspring,” het Fourie gesê.

Fourie vertel dat sy pa ’n opgeleide motorwerktuigkundige in Settlers was voordat hy in die vroeë vyftigerjare met saaigewasse en beeste begin boer het.

Fourie en sy vrou, Femke, woon steeds in die oorspronklike plaashuis wat in 1935 deur sy oupa gebou is.

’n Ou sendingkerkie op ’n plaas in die omgewing wat in onbruik verval het, is intussen gerestoureer en langs die landboumuseum opgerig. Dit huisves allerlei outydse huishoudelike items, asook ’n merkwaardige versameling van meer as 80 naaldwerkmasjiene waarvan party uit die 1800’s dateer.

’n Versameling van meer as 100 speelgoedtrekkers het ook onlangs daar ’n nuwe tuiste gevind.

Dié projek word deur die trekkermanne se vroue bestuur. Die Waterberg Vroue Landbou-unie (VLU) sal op Saterdag 12 Maart ’n kongres daar hou waar hulle talle handgemaakte items in die museum sal uitstal.

Die groep trekkermanne het al wyd en syd aandag getrek nadat ’n artikel in 2019 in die Weg Platteland-tydskrif verskyn het.

Volg gerus die Facebook-blad, Settlers Trekker Museum, om die insetsel wat destyds op 28 Julie 2019 op Kwêla deur KykNet uitgesaai is, te sien.

Die opedag beloof om pret vir oud en jonk te wees met demonstrasies van hoe toentertyd se trekkers gewerk het.

Die liplekkerkosstalletjies bied iets vir elkeen se smaak met pannekoek, pap-en-kaiings, boereworsrolle, kerrie-en-rys en heerlike ribburgers.

As lafenis in die snikhete Bosveldson sal daar koeldrank en roomys te koop wees, asook ’n kontantkroeg.

Toegang beloop R60 per persoon en kinders onder 13 jaar kry gratis toegang. Die hekke open die Saterdag om 07:30.

Vir meer inligting bel vir Hannes van Heerden by tel. 082 651 2885.

Vir navrae oor stalletjies bel vir Gerrit Fourie by tel. 082 387 5008 of Jan van Blerk by tel. 082 770 5557.

Uitstallers wat kampeerplek wil reël, kan vir Joost Pretorius bel by tel. 083 289 5298.

Related Articles

Back to top button