Local newsNews

Springbokvlakte se Grobler-egpaar se storie was ’n ware liefdesverhaal

’n Springbokvlakte-liefdesroman wat begin het met ’n oor-die-draad-soenery tussen ’n boerseun en ’n boeremeisie is verlede week finaal afgesluit.

Die Springbokvlakte het in vier maande met die afsterwe van Maritz (snr.) en Lisbeth Grobler twee van sy grootste soetdorings verloor.

Twee geliefde staatmakers wat vir dekades lank salige, koel skadukolle oor hul vier seuns, hul gemeenskap, skole, kerke en ’n wye vriendekring gegooi het.

Lisbeth is op Dinsdag 1 Maart, presies vier maande ná haar man, Maritz, oorlede en is verlede Vrydag (4 Maart) op Tuinplaas begrawe.

Maritz het in 1959 en Lisbeth in 1962 aan Hoërskool Nylstroom gematrikuleer. Lisbeth was hoofmeisie.

Hy het daarna op die vlakte vir sy pa, Piet Grobler, gaan boer waarna Lisbeth later verpleegkunde gaan studeer het.

Met sy mondigwording in 1963 het Maritz die plaas Athlone van sy pa gekoop en hy is in 1967 met Lisbeth (Dykema) van die buurplaas Gruno getroud.

Lisbeth se ouer suster, Hanna, is soos hul broer, Jan, ook met Groblers uit dieselfde gesin getroud: Hanna Dykema met Cor Grobler (kommandant van die voormalige Warmbad-kommando) en Jan Dykema met Mart Grobler.

Lisbeth is op 25 Februarie 1944 in die destydse Nylstroom gebore. Sy was die sewende van tien kinders van die Nederlandse immigrante, Reint en Cecilia Dykema, wat op Gruno tussen Settlers en Lehau geboer het. Maritz was een van ses kinders van Piet en Martie Grobler.

Terwyl Maritz hom oor die verloop van 60 jaar as baanbrekerboer, gemeenskapsmens en leier bewys het, was Lisbeth altyd aan sy sy; ook besig om haarself te laat geld as liefdevolle gemeenskapsmens, versorger en ma. S

y word onthou vir die volgehoue rol wat sy in die gemeenskap gespeel het.

Sy was onder meer stigterslid van die legendariese Springbokvlakte Skaapkopgilde waar haar watertandgeregte baie gewild was. Sy was ’n pionierslid van die Settlers Vroue Landbou-unie (VLU) en het jare lank as sekretaris van die plaaslike boerevereniging gedien.

Lisbeth word verder onthou as ’n toegewyde vrou en ma vir haar gesin en was lief daarvoor om Hollandse lekkernye op die teetafel voor te sit.

Sy was by die skole en in die plaaslike Hervormde-gemeente ’n staatmaker.

Maritz was op sy beurt weer betrokke as lojale lid van die Springbokvlakte Boerevereniging waar hy oor die jare verskeie bestuursposisies beklee het. Sy liefde vir die landbou het hom ook betrokke gehad by georganiseerde landbou en landelike ontwikkeling.

Die egpaar laat vier seuns agter waarvan drie steeds in en om Bela-Bela, soos in die geval van hul ouers, diep spore in hul gemeenskappe trap.

Peet, die oudste, en Maritz (jnr.), die jongste, boer buite Settlers, terwyl Tonie ’n prokureursfirma in Bela-Bela het en Reint, ’n oudjoernalis, deesdae ’n restauranteur en gastehuiseienaar in Ceres in die Boland is.

Die egpaar laat agt kleinkinders agter. Peet en Ilze se kinders is Stéfan en Karla, Reint en Karien se seun is Simon Reint, Tonie en Liezel se seuns is Maritz en Regardt en Maritz (jnr.) en Helena se seuns is Lourens, Pieter en Maritz.

Maritz en Lisbeth se twee seuns, Peet en Maritz, is die derde geslag Groblers op die Vlakte en negende-geslag Groblers in Suid-Afrika.

Reint het vandeesweek, na afloop van Lisbeth se begrafnis, familie, vriende en die gemeenskappe van Bela-Bela en Settlers in geheel, bedank vir hul ondersteuning en liefde.

“Hulle liefde vir hul kinders, kleinkinders en gemeenskap sal altyd bly staan as monument vir ons ouers.”

  • Die huldeblyk is saamgestel deur Reint Grobler.

Related Articles

Back to top button