Local newsNews

Jonathan se familie bly steeds hoopvol

Die familie van die vermiste Jonathan Dean Raath is raadop nadat dié 19-jarige byna vier weke gelede vermis geraak het.

Raath is op Sondag 6 Februarie laas by ’n kuierplek naby die Krokodilrivier op die Dwaalboom-pad gesien.

Hester Kloppers, sy ma, vertel dat sy bekommerd geraak het toe Raath nie die Sondagaand teruggekeer het huis toe nie.

“My kind sou nie die aand uitgeslaap het sonder om my te laat weet nie. Hy weet ek sou oor hom bekommerd wees,” het sy gesê.

Kloppers het gesê haar seun is ’n baie liefdevolle en saggeaarde jong man wat haar altyd laat weet het waar hy is, saam met wie hy kuier en hoe laat sy hom terug kan verwag.

“Hy het nog die aand voor hy uit is vir my gevra om sy kos in die oond te hou. Toe hy die volgende oggend nog nie by die huis was nie, het ek geweet daar is groot fout.”

Lede van die gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het dae lank soekspanne uitgestuur om die gebied langs die Krokodilrivier te fynkam.

Die rivier het op daardie stadium sterk gevloei nadat swaar reën oor die gebied uitgesak het. Kloppers vertel dat haar seun graag visgevang het en goed vertroud was met die Krokodilrivier.

Sy het haar dank uitgespreek teenoor alle lede van die gemeenskap vir hul omgee en voorbidding.

“Die gemeenskap ondersteun ons baie in hierdie tyd,” het sy gesê. “Die eienaar van die huis waar ons woon het selfs al op verskeie geleenthede met sy eie boot op die rivier uitgegaan om na Jonathan te soek. Ons kon tot dusver net sy visnet opspoor. Sy vriende kontak my ook gereeld, want ons is almal baie bekommerd. Ons hoop vir die beste en bid dat my seun sal terugkom. ”

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) in Thabazimbi vra dat mense wat kan help om die jong man op te spoor hulle sal kontak.

Raath het ’n swart langbroek (Adidas), wit T-hemp en swart tekkies aangehad ten tye van sy verdwyning. Hy het bruin hare en blou oë.

Related Articles

Back to top button