Local newsNews

Bekende radiopersoonlikheid se stem nou stil

Luisteraars wat gereeld inskakel op die Pretoria FM-radiostasie sal die naam Faan Rabie (77) ken.

Rabie het onder meer programme soos Tot Sy Eer, Andantino, Sondagkeur, Goue gunstelinge en U eie keuse aangebied.

Sy stem het op Maandag 24 Januarie stil geraak nadat Covid-19 sy lewe by die Pretoria Oos-hospitaal geëis het.

Hy en vrou, Suzette, het die afgelope paar jaar op die Hideaway-landgoed buite Bela-Bela gewoon.

“Faan het 100 talente gehad en was geseënd met ’n pragtige stem. Hy was ’n perfeksionis en werkolis wat skaars vir vyf minute kon stilsit voordat hy iets wou aanpak. Ons het wonderlike jare se getroude lewe gehad en ons huis was gevul met geluk, liefde en baie mooi herinneringe.”

Rabie het op die plaas Leeupan tussen Ventersdorp en Carletonville grootgeword. Hy het twee broers en twee susters gehad. Hy het aan die Potchefstroomse Universiteit (PUK) gestudeer en sy spesialisvakke was Afrikaans en Duits.

Hy het na afloop van sy studies ’n loopbaan in onderwys gevolg.

“Hy het in die 1970’s vir ’n stemtoets by die destydse Suid-Afrikaanse Uitsaaikorporasie (SAUK) gegaan en daar ingeskakel om meer betrokke te raak by radioprogramme,” het Suzette vertel.

Hy was onder meer ’n nuusleser vir die SAUK.

“Sy liefde vir radio het in sy skooljare begin. Pleks daarvan om saam met die res van die vriende te rinkink, het hy op sy maag voor sy radio gelê en tot laataand musiek geluister. Hy het ’n fyn aanvoeling vir musiek gehad en dit het tydens sy noukeurige samestelling van sy programme duidelik gewys.”

Hy was in sy studentejare ook redakteur van die destydse Normaalkollege se studentekoerant.

Rabie het die SAUK verlaat en teruggekeer na die onderwys.

Hy was tot in 1993 aan die Volkskool Potchefstroom verbonde en is daarna bevorder tot vakadviseur vir die onderwysdepartement. Hy het ook opleiding aan onderwysers gegee. Hy was jare lank as eksaminator by die merk van matriekvraestelle betrokke.

Hy het in sy vrye tyd graag fietsgery en het aan die Cape Argus- en Classic FM-fietswedrenne deelgeneem. Rabie was ook ’n kranige fotograaf.

Hy is in 2002 by Pretoria FM-radiostasie as programbestuurder aangestel. Hoewel hy toe al gevorderd in jare was, het sy loopbaan gefloreer.

“Daar was nagte dat hy die gebou om 23:00 gesluit het, net om die plek weer om 06:00 te moes oopsluit, maar die radiowerk het sy passie geword. Faan het selfs direkte uitsendings vanaf Bloedrivier en vanuit Leeupoort waar die boereorkeste saamgekom uitgesaai,” het Suzette vertel.

Hulle het na Bela-Bela verhuis omdat haar gesondheid gekwyn het en hul skoner lug wou inasem. Met die aanbreek van die pandemie was die Rabie-egpaar tot hul woning op Hideaway beperk, maar kon Faan steeds sy werk voortsit.

Die egpaar het in Desember ’n welverdiende wegbreek na KwaZulu-Natal onderneem maar het albei daar Covid-19 opgedoen wat uiteindelik tot sy dood gelei het.

Die radiostasie het groot lof gehad vir die werk wat hy gedoen het.

“Hy was reeds vroeg in sy lewe daarop ingestel om suiwer Afrikaans te praat. Hy kon ook goed oor die Afrikaanse-letterkunde, veral die digkuns gesels. Hy was trots op sy taal, kultuur en herkoms,” het sy broer, Willem by navraag gesê.

“Sy liefde vir, en kennis van musiek, van swaar opera tot ligte klassieke musiek, asook kontemporêre musiek, was opvallend vir enigeen wat na sy musiekprogramme geluister het.” R

abie word verder onthou vir sy vriendelike- en spontane geaardheid, en dat hy ander mense met respek behandel het.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button