Local newsNews

Modi-inwoners herstel (weer) slaggate in woongebied

Inwoners en sakelui van Bosveldsig in Modimolle het saamgespan om die talle slaggate in Hans Campherrylaan en ’n gedeelte van Maroelastraat te herstel.

Die bekwame span van Megs, onder leiding van Pieter Bezuidenhout, het vir bykans twee weke volstoom gewerk om die sowat 250 slaggate in dié twee strate, wat toegang tot Bosveldsig Fase 1-8 bied, te herstel.

Die projek is moontlik gemaak deur die talle skenkings wat van verskeie sakelui, al die sakeondernemings in die Bosveldsig-sentrum, asook van die ontwikkelaar ontvang is.

Elke fase van Bosveldsig het ook bygedra en daar is om die beurt middagetes voorsien aan al die werkers wat daagliks aan die projek gewerk het.

Die Pos het met Manus Celliers, een van die projekkoordinëerders, gepraat.

“Ons is opreg dankbaar vir elke skenking, want daarsonder sou hierdie projek nooit voltooi kon word nie. Megs het op eie onkoste die nodige masjinerie gehuur, materiaal voorsien en bykomende werkers betaal,” het hy gesê.

Die span het op Maandag 14 Februarie aan die bo-punt van Maroelastraat begin en teen die einde van die eerste week tot by die kruising met Hans Campherrylaan gevorder.

Die daaropvolgende week het reën die werk onderbreek sodat hulle eers teen die einde van die week die projek kon hervat.

Die laaste deel van Hans Campherrylaan, waar dit aansluit by die R101-deurpad, is teen Dinsdag 8 Maart voltooi. Volgende aan die beurt is enkele slaggate in die toegangspad wat na fase 1-3 gaan. Die gedeelte van Maroelastraat wat herstel is, strek vanaf die ingang van Bosveldsig tot by die kruising met Olienhoutstraat.

Hierdie paaie het met die afgelope paar maande se swaar reën vinnig verswak sodat dit bykans onmoontlik was om die paaie te gebruik.

Volgens Celliers het talle inwoners se voertuie skade gelei weens die slaggate.

Daar is tog op hede al meer as 500 sakke teer en bykans 800 liter Bitumen gebruik om die slaggate te herstel.

  • Al die slaggate wat deur Megs herstel is, word met wit kolle gemerk. Daar word beoog om op ’n latere stadium die slaggate in Maroelastraat vanaf Olienhoutstraat tot in Boshoffstraat aan te pak met behulp van verdere skenkings.

    Die sloot wat in Boshoffstraat, naby die ingang na die Koro Creek-gholflandgoed, ontstaan het weens ’n lekkende waterpyp is ook onlangs deur inwoners en sakelui herstel.

    Adopt-a-Pothole Modimolle het geld, wat ingesamel is tydens die Bingo-aand in November 2021, aangewend om plaveiselstene te koop. Die stene is op Dinsdag 22 Februarie en Woensdag 23 Februarie deur Jaco Bogaards van Vaalbos Plaveisel en sy span werkers gelê.

    Nog ’n inwoner, Jaco Vosloo, het sy trekkerlaaigraaf gratis aangebied vir die uitgrawe van die bestaande teer.

    ’n Verdere skenking van 40 sakke teer op Dinsdag 1 Maart deur Action Ford Modimolle het gehelp om nog 16 groot slaggate in Boshoffstraat te herstel.

    Adopt-a-Pothole het vroeg in Januarie vanjaar ook 65 sakke teer gekoop vir die herstel van slaggate in Kerkstraat vanaf Boshoffstraat tot by die rolbalbane.

  • Al die slaggate wat deur Adopt-a-Pothole herstel is word met rooi verf gemerk terwyl die slaggate wat deur die plaaslike munisipaliteit se span herstel word, met oranje kolle gemerk word.

Related Articles

Back to top button