Local newsNews

VLU-vroue leer van kruieplante en die medisinale waarde daarvan

Die vroue van die Vroue Landbou-unie (VLU) Naboomspruit-tak in Mookgophong het besoek afgelê by Jaco Weihmann, ’n bekende in die natuurlike gesondheidmiddelskringe.

Hy het die vroue meer geleer oor die medisinale waarde van plante en spesifiek plante wat algemeen in tuine in die omgewing voorkom.

Die tema op Dinsdag 22 Februarie was: “Kom gesels saam: kruie uit die Bybel van toeka tot nou.”

Weihmann is reeds 30 jaar in die beroep en het sy opleiding by die Western Cape College of Natural Medicine en Durban College of Medicinal Herbs verwerf.

“Dit was ’n insiggewende ervaring en ek het baie van die plante se waarde nie eens besef nie,” het Jo-Anne Potgieter, een van die organiseerders en lid, gesê.

’n Ligte ete wat bestaan het uit ’n heerlike couscous-slaai en water met vars kruie is bedien.

Die 15 vroue het elkeen ’n eie kampstoel gebring en heerlik in die tuin ontspan terwyl Weihmann sy kennis met hulle gedeel het. Elkeen kon ook haar eie velroom aanmaak met die kruie wat hy verskaf het.

Weihmann lewer landwyd aan mediese instansies kruie en plantmateriaal wat verder verwerk word om velsiektes en ander mediese kwale op ’n natuurlike wyse te behandel.

“Die lede sien daarna uit om weer by Jaco te kom kuier. Volgende keer gaan hy ons leer hoe om ons eie seep te maak,” het een van die vroue opgewonde gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!
You can read the full story on our App. Download it here.

Related Articles

Back to top button