Local newsNews

Padopgraderings aan R101 moontlik eers teen middel 2022 gedoen

Die opgradering van die R101-pad tussen Bela-Bela en Modimolle sal na verwagting eers in Junie vanjaar afskop.

Die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) het in Junie 2021 die plan om die pad te verbreed aan die publiek bekend gemaak.

Die opgraderingswerk sal vanaf Chris Hani- en Potgieterstraat in Bela-Bela tot by Thabo Mbeki- en Nelson Mandela-rylaan in Modimolle plaasvind (altesame 26,8 km).

Die doel van die projek is om verkeersopeenhopings te verminder, gevaarlike dele op die pad te herbou en om ou infrastruktuur te vervang.

Die veiligheid van dié besige toegangsroete moet verbeter word om die aantal noodlottige ongelukke op die pad te verminder.

Die bouplanne sluit in dat die pad verbreed word, en ook die verbetering van die pad voor Bela-Bela Lodge, by die skerp draaie by die Verloren-landgoed, asook die gedeelte voor die twee brûe.

Ondersoekers van GA Environmental het ’n impakstudie gedoen om te kyk of waterbronne, grondeienaars, biodiversiteit en selfs geskiedkundige persele langs die roete deur die projek geraak sou word.

Luidens die impakstudieverslag word daar beplan om die twee brûe naby die Groot Nylsoog-pad te vervang.

Albei brûe (Modderloop en Groot Nylrivier) is tussen 1965 en 1966 voltooi en het dus nie bewaringstatus nie omdat hulle nie ouer as 60 jaar is nie, lui die verslag.

Die ongeveer 10 persele van geskiedkundige waarde, wat so vroeg as die Anglo Boereoorlog dateer (wat die konsentrasiekampkerhof in Modimolle insluit), sal nie deur die projek geraak word nie.

Vukosi Mabunda van GA Environmental het by navraag gesê alle grondeienaars langs die roete word op hoogte gehou van die bouprojek.

Hy het gesê sodra die finale goedkeuring van Sanral ontvang is, kan die projek begin. Hy vermoed dit kan in Junie reeds afskop.

Terugvoer van BVI Consulting Services, die konsulterende ingenieursfirma vir die projek, dui daarop dat die projek steeds in sy beplanningsfase is.

Related Articles

Back to top button