Local newsNews

Inwoners en toeriste benoud oor aankondiging van nuwe tolheffings

Motorryers sal hulself vanaf Dinsdag 1 Maart moet staal as die nuwe tolheffings op die N1-snelweg in werking tree.

Die Suid-Afrikaanse nasionale padagentskap (Sanral) het reeds die nuwe stygings in die staatskoerant gepubliseer.

Die nuwe tolheffings op die N1-snelweg in Die Pos se lesersgebied is as volg:

Nyl-tolhek-hooflyn (buite Mokopane):
Klas 1-voertuie (R65), Klas 2 (R122), Klas 3 (R147) en Klas 4 (R197).

Nyl-tolhek (afrit na Mokopane):
Klas 1 (R20), Klas 2 (R37), Klas 3 (R47) en Klas 4 (R63).

Kranskop-tolhek se hooflyn na Polokwane:
Klas 1 (R50,50), Klas 2 (R128), Klas 3 (R171) en Klas 4 (R210).

Kranskop-tolhek-afrit na Modimolle:
Klas 1 (R14), Klas 2 (R37), Klas 3 (R44) en Klas 4 (R66).

Carousel-tolhek se hooflyn (Hammanskraal):
Klas 1 (R62), Klas 2 (R167), Klas 3 (R184) en Klas 4 (R213).

Pumulani-tolhek (buite Pretoria):
Klas 1 (R13,50), Klas 2 (R34), Klas 3 (R39) en Klas 4 (R47).

Inwoners van Modimolle wat in ’n klas 1 voertuig reis, sal nou R179 moet opdok vir ’n retoerrit na Pretoria. Bela-Bela-inwoners sal vanaf Dinsdag R151 betaal vir ’n retoerrit na Pretoria.

Judy Groenewald van die Waterberg-toerismeraad het by navraag gesê enige verhogings in tolheffings raak die publiek.

“Ons moet ook in ag neem dat brandstofpryse reeds baie hoog is en weer in Maart skerp gestyg het,” het sy gesê.

“Die tol- en brandstofpryse kan die toerismesektor weer kniehalter. Dié sektor het nou net begin herstel ná die Covid-19-pandemie se inperkings. Dié stygings kan toeriste se reisbesluite beïnvloed, want almal moet deesdae meet en pas om ’n begroting te laat klop.”

Die Waterberg-gebied word veral naweke deur toeriste vanuit Gauteng besoek.

“Die Waterberg bly ’n aanloklike keuse vir Gautengers wat ’n naweek wil wegbreek.”

Related Articles

Back to top button