Local newsNews

Brand by gewilde Forever Resorts

Die bekende Hydro & Spa-gebou by Forever Resorts in Bela-Bela het op Woensdagoggend 22 Februarie deurgeloop nadat daar ’n brand ontstaan het.

Allan Hoffman, oordbestuurder, het by navraag gesê die brand het vermoedelik teen ongeveer 07:00 in een van die aantrekhokkies ontstaan.

Die brand het versprei en daar is skade aan ’n gedeelte van die gebou aangerig.

“Gelukkig het ons ’n brandvoorkomingstelsel (spreiers). Die Bela-Bela-brandweerdienste was gou op die toneel en ons eie noodspan het dadelik ingespring om die vuur onder bedwang te kry. Niemand is in die brand beseer nie. Die presiese oorsaak van die brand is nog ’n raaisel. Die bestuur sal ’n verklaring daaroor uitreik nadat die ondersoek afgehandel is, het hy gesê.

“Die Hydro & Spa was slegs oop vir vakansiegangers wat by die oord tuisgaan en vir plaaslike inwoners wat oor die nodige toestemming beskik om die spa-gedeelte van die oord te gebruik. Die ondersoekspan en die versekeraars is tans op die toneel en hulle sal eersdaags ’n aanduiding gee oor die herstel van die gebou. Die gebou sal gesluit bly totdat ons meer sekerheid het,” het Hoffman gesê.

“Ek wil graag die noodspan bedank vir hul flinke optrede en bystand. Hulle het die situasie baie goed en op ’n kalm wyse saam met die brandweerdienste hanteer.” JeeDee Cloete, Vryheidsfront-Plus (VF-Plus)-raadslid, het in reaksie gesê.

Die munisipale brandweerdienste het hulle goed van hul taak gekwyt.

“Dit is gerusstellend vir die publiek om te weet dat die brandweerdienste gou op noodsituasies reageer. Daar is egter ’n groot behoefte vir meer opleiding vir die brandweerpersoneel. Dit sal hulle in staat stel om nog meer doeltreffend op te tree tydens noodsituasies.”

Related Articles

Back to top button