Local newsNews

VLU-vroue maak gesonde keuses

Die Vroue Landbou-unie (VLU) in Suid-Afrika is ’n groep vroue wat hul gemeenskappe toegewyd dien en ondersteun.

Die lede van die VLU in Northam werk elke jaar baie hard om die gemeenskap op te hef en om die weerlose mense in die gemeenskap te ondersteun.

“Die VLU is gestig om vroue en die gemeenskappe waaraan hulle deel het, te bemagtig en te ontwikkel,” vertel Karin Swanepoel, skakelbeampte van die Northam-tak.

“Ons projekte en byeenkomste is nie net ’n kuiergeleentheid nie, maar ’n daadwerklike poging om vir ons lede iets te leer. Ons wil graag hê die lede moet ná elke projek ’n nuwe vaardigheid onder die knie hê en ook met kennis daar wegstap.” “Ons jaartema is Seisoen van vernuwing,” het sy afgesluit.

Getrou aan dié tema het die groep vroue op Donderdag 17 Februarie gasvrou gespeel vir Maryke Carstens, ’n plaaslike dieetkundige, wat die vergadering toegespreek het oor gesonde leefstylkeuses.

Sy het klem gelê op die spesiale behoeftes tydens die oorgangsjare. Die byeenkoms is by ’n bekende koffiewinkel in die dorp gehou.

Carstens het aan die VLU-vroue gesê die sleutel tot ’n gesonde leefstyl lê in balans.

Maryke Carstens, bekende dieetkundige, het die VLU-vroue toegespreek oor gesonde leefstylkeuses.

“Die grootste hedendaagse uitdagings is dat baie mense vasgevang is in die hier-en-nou en nie altyd tyd het om te fokus op ’n gesonde leefstyl nie,” het Carstens verduidelik.

Sy het die vroue moed ingepraat en gesê ’n gesonde leefstyl is nie noodwendig moeilik nie; dit verg net beter beplanning.

“Ons kan almal by mekaar iets leer. Almal is nie noodwendig hardlopers of swemmers nie, maar selfs deur aktiewe tuin- of huiswerk te doen, kan ’n mens voldoende oefening kry. Saam met gesonde eetgewoontes is dit reeds ’n groot sprong in die regte rigting. Ons moet kennis uitruil oor gesonde diëte.”

Die vroue het ’n demonstrasie gekry om hoemoes te maak. Dié versnappering word van keker-ertjies (chick peas) gemaak en is volgens Carstens ’n voedselsoort wat onderskat word.

Dit is baie gesond en kan meermale op die spyskaart verskyn.

Die VLU in Northam het reeds ’n vol kalender vir 2022 en is opgewonde om vanjaar weer terug te ploeg in die Northam- en Thabazimbi-gemeenskappe.

Related Articles

Back to top button