Local newsNews

Thabazimbi Homeless shelter kry ’n welkome meevaller

Die Thabazimbi Homeless Shelter is sedert die begin van 2021 hard besig met daaglikse opheffing en versorging van hawelose mense in die dorp.

Verteenwoordigers van Solidariteit Helpende Hand het die afgelope maand besoek in Thabazimbi afgelê en nadat hulle die nood onder plaaslike liefdadigheidsorganisasies raakgesien het, het hulle besluit om hand by te sit en hulp te verleen aan van die dorp se mees weerlose inwoners.

Marianthie Botha (Helpende Hand-streeksorganiseerder) en Carol Ankiewicz (maatskaplike werker) het besluit om ’n groot skenking aan die Thabazimbi Homeless Shelter te oorhandig.

Die skenking het baie nie-bederfbare voedselprodukte ingesluit.

Carol Ankiewicz (maatskaplike werker van Solidariteit Helpende Hand) en Marianthie Botha (streeksorganiseerder van Solidariteit Helpende Hand in Limpopo) oorhandig ’n skenking aan Pieter Kühn (verteenwoordiger van die Thabazimbi Homeless Shelter).

Beverly Spira Kühn, verteenwoordiger van die sentrum het haar dank uitgespreek teenoor die organisasie en het gesê geen liefdadigheidsorganisasie kan deesdae hul deure op eie stoom oophou nie.

Dit is met die welwillendheid en ondersteuning van die gemeenskap dat hulle tot dusver suksesvol was. Spira Kühn het ook haar dank uitgespreek teenoor Marakeli-gastehuis wat gehelp het om die skenkings van Mookgophong af te bring.

“Baie dankie vir julle tyd, moeite en omgee. Julle is voorwaar mense met harte van goud. Mag julle ryklik geseën wees. Só werk ons saam vir ons gemeenskap,” het sy afgesluit.

Die Thabazimbi Homeless Shelter se beleid is om soveel as moontlik terug te ploeg in die gemeenskap en daarom het hul dit goed gedink om die groot skenking van Helpende Hand te deel met ander liefdadigheidsorganisasies wat ook omsien na weerlose en behoeftige mense.

“Ons was baie dankbaar vir die reuseskenking wat ons ontvang het daarom het ons besluit om uit die voorraad kospakkies op te maak en dit te versprei aan die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie, Thabazimbi-sopkombuis en die SASSA-huis in Thabazimbi, om hulle ook in staat te stel om hulle goeie werk voort te sit. Ons wil graag ander lede van die gemeenskap aanmoedig om ook meer betrokke te raak by ons plaaslike organisasies en só te help om die las te verlig.”

Related Articles

Back to top button