Local newsNews

Kokketielkuiwe vir ’n goeie saak

Waterbergers het weer die geleentheid om te wys waar hul harte lê tydens die 19de Kansa Shavathon-veldtog wat eersdaags in ons omgewing aangebied word.

Volgens Kansa se statistieke word ongeveer 115 000 mense jaarliks met kanker gediagnoseer.

Die vyf soorte kanker wat primêr by mans gediagnoseer word, is prostaat-, maag-, long-, kaposi sarkoom (knoppe op die vel, limfknope, mond of organe) en limfoomkanker. By vroue is die algemeenste kankers wat voorkom bors-, servikale-, maag- en baarmoederkanker.

Kansa, wat sedert 1931 bestaan, streef daarna om mense wat met kanker gediagnoseer is, by te staan met die nodige ondersteuning, hulp en inligting oor navorsing. Dié nie-winsgewende organisasie is betrokke by navorsing om kanker te genees en te voorkom.

Kankerpasiënte word bygestaan om gespesialiseerde hulp te bekom en word verwys na gespesialiseerde diensverskaffers.

Hoewel die Covid-19-pandemie die Kansa-veldtogte in die wiele gery het, het die aanvraag vir hul diens in dié tyd nie verminder nie.

Die Waterberg-tak het gesê hulle word toegegooi met navrae uit die omgewing. “Dit was regtig ’n moeilike twee jaar, maar die Waterberg-omgewing se mense het ons baie goed ondersteun,” het Ansie van Heerden, Kansa-projekbestuurder, by navraag gesê.

“Die meeste van ons moes noodgedwonge van ons wonings af gewerk het, maar dit het uiteindelik baie goed uitgewerk. Die Kansa-sorgsentrum, by die huis van Wilna van der Heever in Modimolle, het steeds gefunksioneer. Om fondsinsamelingsprojekte te bestuur, was uitdagend, maar ons is dankbaar dat ons tog ons doelwitte bereik het.”

Daar was die afgelope twee jaar minder vrywilligers by fondsinsamelingsprojekte betrokke, maar Van Heerden het die vertroue uitgespreek dat inwoners vanjaar weer hul gewig by dié verdienstelike saak sal ingooi.

Haarkappers en vrywilligers kom op Saterdag 26 Februarie van 09:00 tot 14:00 by die Bela Mall, asook in die Bela-Bela SuperSpar se parkeerarea, byeen om ondersteuners se hare met ’n bietjie ekstra kleur te verfraai.

Die Shavathon-program sal ook op Saterdag 26 Februarie in Modimolle by die Modi Mall plaasvind.

Daar sal die helpers ook reeds vanaf 09:00 gereed staan om die haarkleure ’n bietjie op te kikker. Skenkings is R50 vir volwassenes en R25 vir skoolkinders jonger as 12 jaar.

Skole in die omgewing wat by die Kansa-veldtog inval, sluit in Laerskool Warmbad en Hoërskool Warmbad in Bela-Bela en Laerskool Nylstroom en Hoërskool Nylstroom in Modimolle.

Die Kansa-projekspan sal sakeondernemings vanaf Maandag 28 Februarie tot Vrydag 4 Maart in die onderskeie dorpe besoek.

Vir navrae in die Waterberg-omgewing kan mense vir Van Heerden bel by tel. 076 409 4444 of Kansa se tolvrynommer by tel. 0800 22 66 22.

Related Articles

Back to top button