Local newsNews

Dorp neem afskeid van geliefde leraarspaar

Die Bela-Bela-gemeenskap neem op Sondag 27 Februarie afskeid van ds. Theuns Kriek en sy vrou, Hannalie, wat einde Februarie na Pretoria verhuis.

Theuns is sedert 1989 leraar by die NG-gemeente Warmbad-Wes. Hy en ds. Willie Potgieter het die gemeente saam vir meer as 30 jaar bedien.

Hannalie, was nie net predikantsvrou nie, maar ook die orrelis van die gemeente. Sy was ook wyd in musiekkringe betrokke en was hoof van die musieksentrum by Hoërskool Warmbad.

“Behalwe vir my gemeentewerk, was ek ook tot 2006 die kapelaan by die Warmbad Kommando. Die kommando-stelsel het daarna ontbind, maar ek het steeds aktief gebly as skut by die Warmbad-skietbaan. Ek en my kollega, Willie Potgieter, het graag gejag en was bevoorreg om baie wildsvleis vir die Dankofferfeeste te kon skiet. Ek sal aanbly as lid van die Bosveld-jagtersvereniging. Dit was ook ’n groot voorreg om vir bykans 30 jaar op die beheerraad van Warmbad Rusoord Tehuis vir Bejaardes te dien.”

Hy was tien jaar lank voorsitter. Theuns was ook vir etlike jare voorsitter van die beheerliggaam van Laerskool- en Hoërskool Warmbad.

Hy sal ook onthou word vir sy aanmoediging van atlete by die wenpaal tydens atletiekbyeenkomste. Hy was die staatmaker rondte-teller en in beheer van die klok.

Hannalie het op haar beurt gesê sy kon haar liefde vir musiek op die kerkorrel en in die klas by die musieksentrum uitleef. Dit was altyd ’n voorreg om by die vroue-aktiwiteite van die gemeente op te tree.

Die vroue van Warmbad-Wes-gemeente het diep spore in haar hart getrap, het sy gesê.

“My musiekleerders het deur die jare uitmuntende prestasies behaal en het veral in musiekteorie uitgeblink. Ons is al jare lank op die ererol van Unisa.”

Sy het ook onlangs ’n sertifikaat van die Suid-Afrikaanse Kerkorreliste-vereniging ontvang vir 50 jaar diens.

Die Kriek-egpaar het gesê noudat hul seisoen van rus aangebreek het, sal hulle meer die langpad Stellenbosch toe aandurf waar hul geliefde twee kleinkinders woon.

“Ons is baie dankbaar teenoor die gemeente en gemeenskap vir die liefde en ondersteuning wat hulle deur die jare gegee het. Ons sien uit na die nuwe fase van ons lewens wat voorlê.”

Van stilsit is daar egter nie sprake nie. Theuns gaan hom voortaan toespits op die koop en verkoop van woonwaens en Hannalie sal as aflos-orrelis by verskillende gemeentes in Pretoria optree. Sy sal ook steeds leerders in musiek onderrig.

Hulle wens die nuwe leraar, ds. Riaan Odendaal en sy vrou Jacqueline, groot seën toe vir die werk wat voorlê.

Related Articles

Back to top button