Local newsNews

AfriForum se hart is by die gemeenskap

Inwoners van Bela-Bela het op Saterdag 19 Februarie tydens ’n inligtingsvergadering by die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie-saal die geleentheid gehad om aan te sluit by die nuut gestruktureerde AfriForum-tak.

Pieter en Carin Botha, sakepersone van die dorp, sal voortaan die leiding as voorsitters neem.

Die buurtwagte sal onder Chris Briel val en Nean van Zyl, plaaslike veeboer, sal verantwoordelik wees vir omgewingsake en ook as tesourier optree. Pieter het gesê die tak sal voortaan bestaande lede kontak en hulle by sekere aangeleenthede betrek tot voordeel van die gemeenskap.

“Ons oogmerk is om self probleemareas wat deur die plaaslike owerhede afgeskeep word, reg te ruk. Ons het reeds met die plaaslike sakeforum, Belabiz, ander rolspelers en die munisipaliteit in gesprek getree. Ons wil graag saamwerk met alle organisasies wat die dorp se belang op die hart dra,” het Pieter gesê.

Die tak wil hul vanjaar op dienslewering toespits en die herstel van slaggate is bo-aan die lys.

Ander probleme wat met omgewingsake te make het, sal ook voorkeur geniet. Dit sluit die verbetering van die gehalte van die drinkwater en rioolwerke in.

Die tak word befonds uit maandelikse ledegeld. Sowat 50% van dié geld word aan die plaaslike takke oorgedra om te bestee.

Indien mense geld wil bewillig vir spesifieke projekte, word die geld steeds deur AfriForum se hoofkantoor geadministreer en dit sal aan die betrokke tak oorbetaal word vir die doel waarvoor dit geskenk is.

Daar is tydens die vergadering besluit dat AfriForum nie nou ’n nuwe buurtwag sal stig nie. Hulle sal die bestaande buurtwagte ondersteun en bystand verleen waar nodig.

Mense wat belangstel om by die tak aan te sluit, of lidmaatskap wil bevestig, kan vir Carin bel by tel. 082 853 4176.

Die plaaslike tak se noodnommer is tel. 060 813 7934. Besoek gerus die webwerf afriforum.co.za vir meer inligting.

Related Articles

Back to top button