Local newsNews

Ken jy die geskiedenis van dié reuseboom?

Lede van die Ysterberg Voortrekkerkommando het op Saterdag 5 Februarie die voorreg gehad om een van Limpopo se unieke natuurlike en geskiedkundige bakens, die posboom net buite Thabazimbi, te besoek.

Die penkoppe, drawwertjies en verkenners was baie opgewonde om saam met hul offisiere en heemraadslede van dié kommando die plaas Mowana te besoek om die majestueuse kremetartboom, wat volgens oorlewering tydens die Anglo-Boereoorlog as posbus gebruik is, van naderby te beskou.

Karen Naudé, een van die kommando se offisiere, het aan Die Pos verduidelik dat só ’n geleentheid net eenkeer in ’n leeftyd kom (aangesien die plaas nie normaalweg vir die publiek oop is nie), en dat die kommandolede baie dankbaar was dat hulle deel kon hê aan ’n stukkie geskiedenis uit die omgewing.

Sy het gesê die bewaring van kultuur- en historiese erfenisse lê hulle baie na aan die hart.

Hoewel dit nie duidelik is presies hoe oud die boom is nie, vertel geskiedskrywers dat die boom reeds daar gestaan het toe oudpres.

Paul Kruger, die destydse president van die Zuid-Afrikaanse Republiek (ZAR), nog op dié plaas gejag het. Die plaas was toe bekend as Gannahoek.

Sommige kenners meen dat die dorp Dwaalboom, net buite Thabazimbi, dalk na dié “verdwaalde kremetartboom” verwys.

Sover dit bekend is, is die boom aangeteken as die boom wat die verste suid groei van alle kremetartbome wat nie aangeplant is nie.

Te oordeel aan die graffiti op die boom se stam is dit al meer as ’n eeu oud, met 1907 as die vroegste datum wat op die boom uitgekerf is.

Die Ysterberg-Voortrekkerkommando bedank alle ouers, offisiere en heemraadslede wat gehelp het om dié dag moontlik te maak.

Hulle is ook baie dankbaar teenoor die eienaar van die plaas, Steward Spencer en Bernard Nelson, die Bergenbos-oord se bestuurder, wat van Rustenburg af gery het om die geleentheid saam met die spanlede by te woon.

Related Articles

Back to top button