Local newsNews

Hier is twee manne met planne

Onbeplande kragonderbrekings het Suid-Afrikaners — en veral Waterbergers — warm onder die kraag.

Plaaslike munisipaliteite se onvermoë om voldoende dienste te lewer, plaas ’n nóg groter las op die reeds sukkelende ekonomie en daarom begin al hoe meer mense na alternatiewe maniere kyk.

Om slegs ’n kragopwekker te gebruik, is nie meer haalbaar nie, meen talle sakelui, omdat die prys van diesel en petrol die hoogte inskiet en daar baie keer nie voorsiening gemaak is vir dié bykomende uitgawe nie.

Verbruikers begin al hoe meer voelers uitsteek na herwinde energiebronne waarvan sonkrag die gewildste is.

Die Pos het met Johan Pienaar van Bela-Bela gesels. Hy het verlede jaar, in samewerking met ’n vriend van Duitsland, Michael Kaszechki, begin om ’n mobiele sonkragstelsel te ontwikkel.

Kaszechki is ’n meganiese ontwerper.

“Ek het met die idee vorendag gekom toe ek in Zimbabwe navorsing gedoen het op ’n sonpaneelplaas van 22 ha. Ek het gesien daar is ’n behoefte aan mobiele sonkrag. Zimbabwe se kragprobleme en behoeftes is nóg groter as ons land s’n,” het hy gesê.

Met Pienaar se ambagslui-agtergrond en Kaszechki se vaardigheid as ontwerper, het hulle die projek aangepak en is die model binne ’n week gebou.

’n Stel sonpanele, die omskakelaarseenheid (invertor) en ’n herlaaibare battery is op ’n sleepwa-as gemonteer.

Pienaar en Kaszechki se model neem ongeveer 10 minute om oopgevou en opgeslaan te word.

Kaszechki het tydens Die Pos se besoek gedemonstreer hoe die model ongeveer 2,4 kW krag opwek en twee boormasjiene, ’n sweismasjien en ’n slypmasjien (grinder) op dieselfde tyd kan aanskakel sonder dat die kragtoevoer afneem.

“Om ’n 35 KvA (kilovolt-ampère) kragopwekker aan die gang te hou, sal jou tans sowat R1 200 per dag vir die brandstof alleen uit die sak jaag,” het hy gesê.

“Omdat die sonpaneel-sleepwa vervoer kan word en toerusting sonder moeite aan die gang gehou word, kan boere en kleinhoewe-eienaars baie baat vind by dié ontwikkeling. By gewone huishoudings sal inwoners selfs ’n swembad- en ’n boorgatpomp saam met die gewone huishoudelike toerusting kan gebruik,” het hy gesê.

“Die model kan in sy huidige formaat ten volle in daglig funksioneer en die battery sal vir ’n paar uur krag stoor wat ná sononder gebruik kan word. Ons beplan om die stoorvolume te verbeter.”

Die sleepwa moet gelisensieer wees sodat dit agter ’n voertuig op ’n openbare pad gesleep kan word.

Volgens dié twee innoverende manne is hierdie uitvindsel veral goeie nuus vir ambagsmanne, want hulle kan hul take sonder onderbreking voltooi.

Hulle beoog ook om sonpanele op huisdakke te installeer.

“Die voordeel hiervan is dat mense hulle sonpanele kan saamneem wanneer hulle verhuis,” het Kaszechki gesê.

Related Articles

Back to top button